Daniel Jacobus (Daan) Opperman Lowings (69) staan tereg op ‘n klag van moord op ‘n mede-inwoner, Leon du Toit (60).
Lowings het na bewering vir Du Toit op 31 Augustus deur die linkerkant van sy kakebeen geskiet tydens ‘n onderonsie oor tuinstoele. Du Toit is op die toneel dood.
Lowings se aansoek om borgtog is vroeër toegestaan en hy is tans uit op borg. ’n Groep inwoners van Redan is egter ongelukkig omdat hy nie agter tralies is nie en het Dinsdag voor die hof vergader om hul misnoeë te kenne te gee.

Inwoners het plakkate met Lowings se gesig op en die woorde: “No Bail for This Killer Please!!!” voor die hofgebou vertoon.
Susan Naudé, een van die inwoners, het aan Vaalweekblad gesê: “Wie kom weg met R300 op ’n moordsaak? Hy het R300 borg betaal en loop in Redan tussen die mense rond. Hulle is bang, want hy het die op dieselfde dag wat die skietvoorval plaasgevind het, die kinders gedreig.”
Naudé het ook beweer dat Lowings op die dag van die voorval sy vuurwapen op ‘n kind gerig het en gedreig het om die kind te skiet. “Daardie kind is getraumatiseer. Hy hardloop kort-kort weg van die huis af. Ons voel hierdie moordenaar moet uit Redan uit gaan. Hy moet inteendeel tronk toe gaan, want dit is wat hy verdien,” het Naudé buite die hof gesê.

Kobus Hoffman, Vryheidsfront Plus se LP in die Gautengse Provinsiale Wetgewer, het ook die hof besoek om toe te sien dat geregtigheid geskied en dat daar wel teen die beskuldigde opgetree word.
Hoffman het gesê hy is vol vertroue dat die regsbank ‘n beslissing sal neem, dat Lowings aangekla sal word en dat hulle na die feite sal kyk. Volgens Hoffman sal die party druk op die polisie toepas om toe te sien dat hulle ‘n ordentlike ondersoek doen. “In hierdie stadium is dit (die wyse waarop die saak ondersoek word) nog vir ons ‘n kwelpunt,” meen Hoffman. Die voorval het die oumensbuurt van Redan geskok.
Volgens bronne met wie Vaalweekblad gesels het, was Lowings besig om die tuinstel van Chanel Viljoen, ‘n inwoner, se ou huis (nommer 67) te verwyder toe hy deur inwoners gekonfronteer is en daarvan beskuldig is dat hy die stoele “steel”.

Viljoen was in die proses om te trek en sou die meubels na haar nuwe huis (nommer 101) trek.
Du Toit en Lowings het glo in ‘n hewige stryery betrokke geraak, waarna Lowings na bewering sy vuurwapen uitgehaal en Du Toit geskiet het.
Daarna het hy na bewering ook skote op Mienie afgevuur. Xolani Mabena, ’n vriend van die beskuldigde, het aan Vaalweekblad gesê dat Lowings na die voorval in die hospitaal opgeneem is en glo geopereer moes word nadat hy ernstige beserings in die bakleiery met Du Toit opgedoen het. Die vriend beweer dat Lowings vir sy lewe gevrees het nadat sy motorruit stukkend geslaan is en hy fisies aangeval is en dat hy uit noodweer opgetree het.
Lowings was op krukke toe hy by die hof opgedaag het.
Lowings se regsverteenwoordiger is David Mey en Amukelani Rikhotso is die staatsaanklaer. Landdros Chris Kruger het die saak tot 26 Januarie uitgestel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
