NewsNews

Vaal se ‘Cupcakes’ skitter in vanjaar se matriekeksamen

VEREENIGING. - Plaaslike matrikulante wat pas hul eindeksamenvraestel in Afrikaans Eerste Taal geskryf het, was sekerlik verras om iets baie eie aan die Vaaldriehoek daarin op te merk:

 ‘n Begripstoets wat gefokus het op Cupcakes of Hope, ‘n nie-winsgewende organisasie wat agt jaar gelede in die Vaaldriehoek gestig is en intussen landwyd uitgekring het.
Cupcakes of Hope is in 2012 deur Sandy Cipriano, ‘n bekende Vereenigingse sakevrou, gestig om mense bewus te maak van kanker by kinders en om fondse in te samel vir dié wat mediese en geldelike hulp nodig het. Fondsinsameling word hoofsaaklik gedoen deur kolwyntjies (cupcakes) te verkoop, wat landwyd deur duisende vrywilligers, bekend as “Cupcake Angels”, gebak word.
Argieffoto: Sandy Cipriano, eregaste en afgevaardigdes van Guinness World Records in September 2017 in Vereeniging, toe Cupcakes of Hope die hoogste kolwyntjietoring ter wêreld gebou het.
Sowat 60 jong kankervegtertjies word maandeliks deur die organisasie gehelp deur byvoorbeeld hul mediese behandeling of ander daaglikse uitgawes soos kos, klere en vervoer na hospitale te betaal.
In 2013 het die organisasie het die organisasie wyd bekend geword toe hulle op Mandela-dag die grootste mosaïek in die suidelike halfrond van Madiba se gesig met kolwyntjies gebou het.
In September 2017 het Cupcakes of Hope wêreldwyd publisiteit gekry toe hulle die hoogste kolwyntjietoring ooit, voor Rio Sol Portuguese Restaurant in Vereeniging gebou het.
‘n Matriekvraestel waarin ’n begripstoets met vrae oor die organisasie se doelwitte beantwoord moes word.
Die organisasie se rekordpoging, ‘n toring van meer as 10 meter propvol kolwyntjies, is toe deur Guinness World Records as die hoogste ooit erken.
Buiten dat hulle met die wêreldrekord kon spog, het Cupcakes of Hope daarmee ook hul doelwit met die projek behaal om R600 000 in te samel vir stamsel- en beenmurgoorplantings by kinders met kanker.
Dit is juis oor dié rekordpogings dat vanjaar se matrieks vrae in die eindeksamen moes beantwoord.
Sandy sê sy was aangenaam verras toe sy verlede week verneem het dat Cupcakes of Hope ‘n ereplekkie in vanjaar se matriekvraestel gekry het.
“Dis wonderlik! So, al die matrieks in die hele land wat die vraestel geskryf het, weet nou van Cupcakes of Hope. In my wildste drome het ek nie hierdie een sien kom nie! God het beslis ‘n wonderlike manier gebruik om ons saak te bevorder,” sê Sandy.
Lesers wat meer oor die Cupcakes-projekte wil uitvind, kan www.cupcakesofhope.org besoek.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button