In ‘n skrywe aan Amsa het Solidariteit geëis dat die korttyd waarop sommige van sy lede geplaas is, afgeskaf word en dat volle salarisse vir die werknemers heringestel word. Dit volg nadat Amsa vanaf 1 November vanjaar ‘n 5% verhoging, met ‘n verdere 2% in April 2021, vir een kategorie werkers ingestel het, maar die oorblywende werkers op 25% korttyd gelaat het met ‘n verdere vooruitsig van ‘n moontlike permanente 8% vermindering in salaris.
Solidariteit is tans besig om stukke teen ArcelorMittal voor te berei, en alle moontlike weë word ondersoek, insluitend regs- sowel as industriële stappe wat teen die maatskappy ingestel kan word om die onbillike en onregverdige wyse waarop die maatskappy sy personeel hanteer, te stuit.
“Dit is onaanvaarbaar dat ‘n maatskappy verhogings aan sekere personeel kan toestaan, maar ander se werksure en salarisse word steeds beperk. Aangesien sommige werknemers met verhogings vergoed word, is dit duidelik dat Amsa se onderdrukte bedrywighede herstel het en dit maak die voorstel om ander werknemers se salarisse tydelik en/of permanent te verminder totaal onbillik,” sê Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van metaal en ingenieurswese by Solidariteit. Volgens Solidariteit was die korttyd wat ingestel is net tydelik en is die permanente instelling daarvan ‘n eensydige verandering van diensvoorwaardes, wat onbillik en strydig met die wet is.
Amsa is ook van voorneme om sekere werknemers se salarisse met 8% te verminder, wat dan vervang sal word deur ‘n prestasiebonus en jaarlikse verlof – nóg ‘n eensydige en onwettige verandering.
In teenstelling met die vermindering in salarisse, het die uitvoerende hoof van Amsa, mnr. Kobus Verster, in die week aangedui dat daar reeds groot besparings teweeggebring is, veral op die vaste koste van die maatskappy. “Amsa het nie aan ons lede se eise voldoen nie, en dit nadat daar die afgelope tyd reeds verskeie vergaderings gehou is om die aangeleentheid te bespreek. Ons is dus met geen ander keuse gelaat as om voort te gaan met regsprosesse teen Amsa nie. Dit is onregverdig om van een groep werknemers weg te neem terwyl ‘n ander groep bevoordeel word en Solidariteit en sy lede sal sulke dubbel standaarde nooit aanvaar nie,” sluit Venter af.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
