Hoekom ek en versiersuiker nie maats is nie
Ek sien koekbak is nou weer in die mode en oral is daar video's wat wenke gee oor hoe om koeke te versier. Ek wonder of kinders steeds die laaste versielsel, of die icing soos ons gesê het, uit die bak eet?
Ek onthou ek was nog nie in die skool nie. Kleuterskool vakansies het ek by my peetma deur die dag gebly. Sy het koek gebak vir tuisnywerhede. Pla mag ons haar nie gepla het as sy besig was nie en vingertjies in amper leë bakke met versiersuiker het sy nie geduld nie. Die dat ons daai dag van beter moes geweet het … Kom ek en my ouer niggie in die kombuis nadat haar ma klaar gebak en opgeruim het. Daar staan dit toe. Twee amper leë bakke met aangemaakte icing in.
Dit was die eerste rooi lig – my tannie het nooit goed laat rondstaan nie! Maar, al wat ons sien is die soet verleiding. Wie vir wie oortuig het kan ek nie meer onthou nie, maar binne twee oogknippe en minder sekondes toe is daar twee dogtertjies met die icingbakke verskuil agter die buitekamermuur. Dit was die tweede rooi lig – my tannie het altyd geweet waar ons is, en waarmee ons doenig is.
Sy kon net sowel ‘n sielkundige gewees het. Daardie bakke was ‘n lokval tot ‘n les wat ek nou nog nie vergeet het nie. Die bakke het net genoeg icing bevat om twee stoute dogtertjies soet tot agter die ore te maak.
Daardie naar soet, amperse maagpyn soet. Daar sit ons toe. Kan nie gaan kla nie, want ons weet ons was verkeerd, maar ook met groot behoefte om verligting van die onlekkerte te vind.
Die onlekkerte het gewen. My tannie het nie eens geraas nie. Net gesê, “nou weet julle hoekom ek nie wil hê julle moet dit doen nie.” Die les was geleer. Ek is tot vandag toe nog lugtig vir te veel icing op ‘n stuk koek en versiersuiker net so skoon uit ‘n bak eet, doen ek nooit ooit weer nie!

