Inwoners spring self in om kruising veilig te maak
VANDERBIJLPARK. - Twee inwoners van SE1 het besluit dat hul en hul gesin se veiligheid, asook die van ander inwoners tans in gevaar is weens die lang grasse op die middelmannetjie by die kruising van Christiaan de Wet en Frikkie Meyer Boulevard en self ingespring om dit weer veilig te maak.
Twee inwoners, Daan Branders en Dirk Crafford, albei ingeskrewe aktiewe lede van die plaaslike VF Plus, het self ingespring en die lang gras gesny en sommer die middelmannetjie weer netjies gemaak. Die lang gras het verkeer van beide rigtings so verberg dat dit ‘n risiko was vir motoriste om daar te kruis.
Terwyl die twee manne geswoeg en gesweet het, het daar verskeie motoriste gestop en hulle persoonlik bedank vir dit wat hulle doen. Gerda Senekal van die VF Plus het hulle ook bedank. “Dit lyk nou sommer netjies nadat die gras en ander rommel wat in die lang gras gelê het, verwyder is. Daan en Dirk, knap gedaan, ons is trots om julle as deel van ons span te hê. Baie dankie vir julle inisiatief,” het Gerda gesê.
- Vaalweekblad bedank ook die twee manne, asook ander plaaslike inwoners wat nie op hulle laat wag nie, maar self inspring om die dorp en woongebiede skoon en netjies te hou.

Daan Branders en Dirk Crafford, albei ingeskrewe aktiewe lede van die plaaslike VF Plus, het self ingespring en die lang gras gesny en sommer die middelmannetjie weer netjies gemaak. Foto’s: Verskaf 
Daan Branders en Dirk Crafford hard aan die werk. 
Kyk hoe hoog het die gras gestaan!
