Nooddienste is van vroeg vanoggend af besig om inwoners van die Rietspruit-omgewing wat in hulle huise vasgekeer is na gister (15 Januarie 2021) se wolkbreuk in Vanderbijlpark, na veiligheid te neem. Vaalweekblad sal ons lesers op hoogte hou oor die situasie.
Dit is die tweede keer in net meer as twee weke dat inwoners van die buitewêreld afgesny is omdat die paaie om hul huise heeltemal oorstroom het.
Lees die berig oor hul vorige drama weens die groot reëns op Nuwejaar:
Oorstromings bring groot drama op Nuwejaar
VANDERBIJLPARK. – Met milde reën op Oujaar, donderstorms op Nuwejaar en nóg reënbuie in die eerste week van Januarie, kan inwoners van die Vaaldriehoek tans nie oor droogte kla nie.
Verskeie plekke in die Vaaldriehoek het vanaf die aand van 1 Januarie tot die oggend van 2 Januarie meer as 130 mm reën gekry.
Terwyl meeste inwoners se bekers van geluk saam met hul reënmeters oorgeloop het, het die water ongelukkig plek-plek ook vir heelwat skade gesorg. Minstens sewe motorbote wat tydens die reën en storms op die Vaaldam, die Vaalrivier en Lochvaal-omgewing vasgemeer was, het gedeeltelik of heeltemal gesink en is onherstelbaar beskadig.
Mnr. Kobus Pienaar het op 2 Januarie laat weet dat die gebied vanaf Lochvaal Hotel, verby Lyttle Egypt tot by die vierrigtingstop, heeltemal oorstroom het. Die spruite was in vloed en het soos riviere gelyk, het hy gerapporteer.
Mnr. André Vallentgoed van AfriForum Sasolburg het ook op 2 Januarie berig dat sommige mense in laagliggende gebiede soos by die Kaalplaats-hoewes agter Lochvaal, van die buitewêreld afgesny was omdat paaie rondom hul eiendomme onder water was.
“Ons is in kennis gestel dat die Klein Rietspruit by Kaalplaats afkom en dat daar mense in hul huise vasgekeer is. Ek het Sasolburg se hommeltuig gevat en ook Vanderbijlpark se lugvleuel en buurtwagmanne gekontak vir bystand. ‘n Reddingspoging is toe van stapel gestuur waaraan Vanderbijlpark se SAPD-watervleuel, Sasolburg se lugvleuel, Vanderbijlpark se lugvleuel, buurtwagte asook die Vaal Response Unit en lede van die publiek betrokke was. Die vasgekeerde gesinne en hul troeteldiere is toe na veiligheid geneem,” sê hy. Hy bedank al die instansies en individue wat hulp verleen het.
Die water het teen Sondag, 3 Januarie, begin terugsak en soos wat die paaie weer begaanbaar begin word het, kon die inwoners teen die Maandag weer teruggaan huis toe.


*****************************************************
