Rudd-egpaar vier vandag 50ste huweliksherdenking
VANDERBIJLPARK. - Die gewilde plaaslike sanger Charles Rudd (71) en sy geliefde vrou Gerda (70) vier vandag hul goue huweliksherdening. Vaalweekblad wens hul geluk - dit is voorwaar 'n mylpaal en voorbeeld vir ander.
Die twee het mekaar die ja-woord gegee op ‘n sonnige Saterdag, 16 Januarie 1971, om 15:00 uit die NG kerk, Vanderbijlpark Suid. Die onthaal was op Gerda-hulle se familieplaas op die oewer van die Vaalrivier.
Charles en Gerda is albei boorlinge van die Vaaldriehoek wie se paaie destyds by die Jeugsentrum in Vereeniging gekruis het. As pasgetroudes het hullle in Sondlandpark, Vereeniging gewoon. Uit die huwelik is drie dogters en ‘n seun gebore.
In 1980 het die Rudd-gesin die Vaal verruil vir ‘n nuwe tuiste aan die Noordkus in Zinkwazi. In 1989 keer hulle terug na Vanderbijlpark en die plaas waar Gerda grootgeword het. Charles het geboer e deur die jare het al vier hul kinders aan die Hoërskool Transvalia matrikuleer.
Charles Rudd se eerste CD, met die treffer Hemelkind word in 1996 vrygestel. Dit was die begin van sy sangloopbaan en ‘n nuwe hoofstuk in die egpaar se lewens. Hulle het die land vol getoer vir vertonings en musiekfeeste. Iets wat hulle steeds geniet en nie kan wag dan die virus die trekpas kry sodat hulle dit weer kan doen nie.
Gerda sê: “Vyftig jaar het in ‘n oogwink verloop. Ons het vier kinders, skoon-kinders en 9 kleinkinders ryker geword. Ons het beslis die lewe se sewe sakke sout ervaar, maar heelwat suiker, stroop en seëninge ook. Ons is so bevooreg dat die Here ons vir mekaar spaar en gesond hou.”
Die plan was om behoorlik vandag partytjie te hou. Die uitnodigings was gestuur, die saal gehuur en versierings gekoop, maar weens Covid-19 is dit gekanseleer. Gesondheid en veiligheid kom eerste!
Kom ons klink maar almal tuis ‘n spreekwoordelike glasie op die egpaar se goue huweliksherdenking. Mag hul nog lank gespaar en in mekaar se liefdevolle arms bly.



