Local newsNews

Midvaal Hoofsweep Rapport (6) deur Raadsheer Phil Pretorius

Raadsheer Pretorius doen verslag oor die stand van sake in Midvaal

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, hoofsweep van die Midvaal Munisipaliteit en Wyksraadslid vir Wyk 14:

Gedurende die afgelope aantal maande het die epidemie Suid-Afrika en Midvaal swaar getref. Dit is ʼn riem onder die hart dat Midvaal se finansies en bestuur gesond is en die impak kan absorbeer. Dit maak die val so effens sagter as dit by dienslewering, ondersteuning van gemeenskappe en reëlings mbt afbetaling van agterstallige rekeninge kom. Besparing is nou die fokus van elke instansie, wêreldwyd.

Onlangs het die regering ʼn memorandum gesirkuleer wat voorgeskrewe besparings in munisipaliteite uiteensit. Hierdie kostebeperkingsmaatreëls sluit onder andere in vervoer, reis- en verblyftoelae, verversings by vergaderings asook die aanbied van amptelike funksies.   Dit is noemenswaardig dat Midvaal reeds meer as ʼn dekade gelede sekere van hierdie beperkinge self ingestel het. Die jarelange gratis etes en drankies na raadsvergaderings is gestop en die “kroegtoonbank” het plek gemaak vir ʼn vergaderinglokaal.

Slegs vergaderings van vyf ure of langer word verskaf met verversings en jaareindfunksies is afgeskaal en vir die personeel se eie rekening. Agendas en notules word al geruime tyd elektronies op CD’s versprei en vanaf 2020 per aanlynskakel ge-epos na lede.

Ongelukkig het die Midvaal Makietie en later die Midvaal “Globetree” ʼn groot hap uit die begroting gevat en moes dit ook afgestel word.   Lochstraat is opgegradeer maar slegs nadat reuse besparings en aanpassings vanaf die oorspronklike voorstelle ingestel is. Nuwe innoverende tegnologie is uitgetoets om paaie te onderhou, straatligte te vervang en water te bespaar. Dit maak net sin om nie spandabelrig te werk te gaan met publieke fondse wanneer sekere gemeenskappe steeds nie elektrisiteit, water of sanitasie het nie.

Alhoewel plaaslike munisipaliteite nie verantwoordelik is vir behuising, voeding of onderwys nie maak Midvaal die paaie gelyk vir inwoners deur dienste, donasies en projekte wat o.a. landbou en kleinbesighede ʼn hupstoot gee.   Na maande se ekonomiese swaarkry het Midvaal besluit dat luukshede soos kersversierings nie in totaliteit deur Midvaal befonds kan word nie. Vir daardie rede het die Burgemeester ʼn klein aantal hangers en tinsel aan wyke geskenk en het Hoofsweep Rdh. Phil C Pretorius ʼn gemeenskapsprojek geloods om kersversierings vir Midvaal te maak. Die 15 wyke het elk die geleentheid gekry om die kersversierings uit plastiese hangers te maak en in hulle wyke op te sit.

Sekere wyke leen hulle meer tot die opsit van kersversierings in die strate en sal u dus in Pierneef Blvd ʼn aantal met liggies sien opgaan. Rdh. Pretorius het die gemeenskap gevra om tinsel en hangers te skenk en op 9 Desember 2020 het die gemeenskap in die Meyerton Stadsaal bymekaar gekom en versierings gemaak. Op die manier spandeer Midvaal nie publieke fondse op hierdie projek nie en die gemeenskap word betrek om hul dorp op te vrolik vir die feesseisoen.  

Graag bedank ek vir Lindi Tindleni vir haar harde werk om die projek van die grond af te kry. Dankie ook aan Pietria Hardeware in Meyerton, Riette McKenzie, Esme Elford, Rdl Hennie Oosthuysen, Elizabeth Venter, Erline Jordaan, Yolandi Pretorius, Kara Pretorius, PC Pretorius en Luka Pretorius vir hulle ure se harde werk en ondersteuning.  

Ek wens u en u geliefdes ʼn besonder voorspoedige 2021 toe. Saam sal ons hierdie pandemie en ekonomiese swaarkry aanpak en sterker aan die anderkant uitkom. Wees veilig, verantwoordelik en die meester van jou eie behoud. 

Trotse Midvaal Groete

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App

Raadsheer Phil Pretorius saam met een van die gewaardeerde organiseerders van die Kersprojek, Lindi Tindleni.
Die Kersversierings word gedurende Desember aan die lamppale aangebring.
Inwoners van Midvaal hard aan die werk om Kersversierings vir hul wyke voor te berei.

Só het dit die afgelope Kerstyd saans in Meyerton se strate gelyk.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button