Georgina skep veilige ruimte vir jong dansers
Ons maak nader kennis met Georgina Jacobs, een van die Vaaldriehoek se geliefde dansinstrukteurs.
SASOLBURG. – Vaaldriehoekers ken haar as dansinstruktrise en Spaanse danseres. Sy is ook ma van twee dogters en het verlede jaar ‘n kleinseun ryker geword. Vir haar leerlinge by Vaalpark Articon en by haar dansstudio is sy Juffrou Georgina Jacobs, ‘n rolmodel vir wie hul baie liefde en respek het.
Georgina se verjaardag is op 5 Mei en verlede jaar was dit te midde van die groot inperkingstyd. Haar leerlinge het steeds die dag vir haar spesiaal gemaak deur ‘n verjaardagboodskap-video op haar Facebookblad te deel. Almal se boodskappe was min of meer dieselfde. “Ons mis juffrou. Juffrou doen so baie vir ons. Dankie Juffrou.”
Een van die jong dames het dit mooi saamgevat: “You make dance a happy and safe place for all of us.”
Dié juffrou het duidelik ‘n passie vir haar vakgebied en vir elke leerling. “Dit het moeilik gegaan verlede jaar,” erken sy. “Ek het op ‘n stadium die dansstudio vir ses maande gesluit. Die grootste uitdaging was om die matrikulante gereed te kry vir hul praktiese eindeksamen. Hulle moes dit op video doen en ek het net gesê verbeel jou die videograaf is die eksaminator,” onthou sy.

Die Covid-19 pandemie het nie net haar dansklasse aan bande gelê nie. “My boetie in Ballito het by die dood omgedraai nadat hy met Covid-19 in die intensiewe sorgeenheid beland het.” Haar oudste dogter is ‘n apteker en Georgina sê haar hart breek vir haar kind wat dag na dag aan die virus blootgestel word.
2020 was vir haar bittersoet. “Ek kon nie klas gee nie, en was bekommerd oor my familie, maar dit het my ook die kans gegee om baie tyd saam met my kleinseun te spandeer. Tyd wat ek nie onder normale omstandighede sou hê nie, want dan kom ek maklik eers na 20:00 in die aande tuis.”
Georgina was vyf jaar oud toe sy met balletklasse begin het. Op 14 het sy ook met Spaanse Danse kennis gemaak. Sy dans nog gereeld in produksies van Carli Oliver se Compañia Sophia. Wanneer sy nie dans of dans afrig nie, lees sy graag boeke oor dans en kuns. “Ek gaan nog inskryf vir kunsklasse. Ek is lief om te teken of sommer net in kunsgalerye te loop. Jy weet, ek wil nie eendag terugkyk op my lewe en sê: ‘Ek het nét gedans nie,’ vertel sy. Haar huidige en vorige leerlinge gaan nie met haar saamstem nie. Georgina dans nie net nie.
Sy rig ook nie net dans af nie. Sy is die een wat uit haar pad gaan om vir jong dansers ‘n veilige en gelukkige hawe te skep op die maat van die musiek wat ritmies in elke danser se are klop.
