Local newsNewsNews

Biltong ‘jag’ is harde werk!

Glimlag 'n slag en lees hoe die twee pekinesies, Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi, op 'n keer biltong gejag het.

‘n Winter of drie gelede stuur die jagters in die familie vir ons blesbokvleis klaar gesny vir biltong en droëwors. Moet nog net hang vir droogword. Pa hang toe die lekkernye op die droograk in die studeerkamer. Ons hou die deur toe om die honde, Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi, uit te hou. Maar hulle ruik die vleis en hou wag voor die toe deur.

Die volgende oggend is die honde buite en ek en Pa skuif die rak vir ‘n wyle sitkamer toe. Ek benodig die studeerkamer vir die dag. Bessie en Heidi kom in en storm die studeerkamer binne, maar die bok is weg! Heidi snuffel tot by die toe sitkamerdeur, sy het die reuk gekry. Hulle vat hul middagslapies voor die deur. Die bok gaan hul nie weer ontglip nie.

Maar selfs dié dapper honde moet uitgaan as die nood druk. Op hul ekspedisie na verligting, skuif Ma en Pa weer die rak kamer toe. Ma wil TV kyk en ek sit nog die studeerkamer vol. Baba Bessie en Heidi storm enkele oomblikke later vol moed die sitkamer in. Maar die bok is alweer weg. Hulle ruik hy was daar, maar kry hom nie. Ek hoor hoe sê Baba Bessie vir Heidi sy gaan vir Wimpie bel, dit lyk vir haar hy het die bok net gekwes.

Die ding loop dan nog rond! ‘n Uur of wat later is my artikel uiteindelik gepleeg en ek sê vir Pa hy kan maar weer die studeerkamer gebruik. Dié keer maak ek die twee kleintjies sommer in die kombuis toe en die droogwordende blesbokbiltong is terug waar dit begin het.

Die oomblik toe ek die kombuisdeur oopmaak, toe is dit twee witblitse in die gang af kamer toe. Ek is agterna. Daar sit Bessie en Heidi toe aan beide kante van die bed. Baie paraat en neusies in die lug, duidelik oortuig die ontwykende bok is bo-op die bed. Toe daar nou niks van die bed wou afspring wat hulle kan eet nie, het hulle halt geroep vir die dag en gaan slaap. Teen die tyd wat die biltong uiteindelik droog genoeg was vir eet, was die twee nog net so paraat soos die eerste dag en het hulle gesorg hulle kry hul deel vir al hul harde werk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button