Ons onthou … Johan Hartzenberg
As jy hom geken het, soos wat ons hom geken het, sal jy hom nooit vergeet nie. Lees hier oor hoe ek Johan onthou.
Hy sou 68 gewees het op 22 Januarie 2021. Die man wat diep spore in my lewe getrap het. Ek was nog in die laerskool toe hy aangestel is as predikant. Skielik was daar lewe in die kerk. Die jong predikant met die vonkel in die oog. Klein Gerdatjie het hy my genoem om my siel te versondig.
Hy was mal oor houtskoolgrys klere. Tot Ma se ergenis, sy het altyd gesê blou bring die kleur van sy oë uit. Sy het hom as haar broer aangeneem en vele hemde en handgebreide truie het hul weg pastorie toe gevind. Ook net vir hom wat Ma ‘n ‘fair-isle’* trui weer geduldig ‘n stuk van uitgetrek en oorgebrei het. Dis nou nadat hy ‘n gat daarin gebrand het met sy pyp. (*Dis ‘n trui met baie kleure wat patrone en prentjies vorm en dus die breier totaal opkoek in wol.)
Daardie eerste jare was gelukkige jare. Drie dogtertjies, ‘n vrou wat die beste sjokolade koek ooit kon bak en ‘n kerkgebou wat Sondag na Sondag oorgeloop het. Ek onthou gemeentekonserte waar ds. Johan en ds. Kruger du Preez “to all the girls I loved before” gemime het. Ek onthou hoe sy een wenkbrou gelig het as hy nie heeltemal saamgestem het nie. Sy hand wat altyd net so bietjie gebewe het as hy die nagmaalwyn skink.
Sy wit hemp wat net-net onder sy houtskooltrui uitsteek onder sy swart toga… dan het hy soos die priester van Thornbirds gelyk. Kom hy kuier dan was dit nie lank nie of hy het die Bybel gesoek … om die ketel te begrawe. Baie gelag. Daardie eerste jare.
En toe loop dinge skeef, soos wat die lewe soms skewe draaie gooi. En ou ooms en mislike tantes begin oordeel … en slegsê … Hulle het hom vernietig. Heeltemal. Hy is twee dae voor my man oorlede in 2008. Ek droom nog baie van hom. In my drome vonkel sy oë, terg hy weer en suig hy rustig aan sy pyp. Ja, hy was ‘n predikant. Ja, ek het baie gespot oor hy soos ‘n passer al om die punt preek. Maar, vir ons was hy vriend. Vir ons was hy mens. En ja, ons mis hom steeds.
