NationalNews

Rowers vermoor voormalige SAA-vlugingenieur en oud-hoteleienaar van Oranjeville

Wyle Roelf van der Merwe was die pa van twee volwasse seuns en oupa van vyf kleinkinders.

  Eerste publikasie – Vaalweekblad 27 Januarie 2021

Retha Fitchat

ORANJEVILLE. – Inwoners van dié rustige dorp aan die Vaaldam is nog verslae en geskok na die gru-moord op mnr. Roelf van der Merwe (68), Vrydag, verlede week. Roelf en sy vrou, Elmarié (67) is omstreeks 03:00 die oggend in hul huis in Strydomstraat oorval terwyl hulle geslaap het.

Volgens die polisie het Roelf met die aanvallers geworstel, en is in die proses vier keer met ‘n skerp voorwerp gesteek. Terwyl hy sterwend in die kamer gelê het, is Elmarié deur die rowers gedwing om twee kluise oop te sluit en kontant en vuurwapens aan hulle te gee.

Die rowers het met twee vuurwapens, ‘n onbekende bedrag geld en die egpaar se Volkswagen Polo (registrasienommer: HGX 515 FS) gevlug. Elmarié, wat deur die rowers vasgebind is, kon daarin slaag om haarself los te woel en hulp te ontbied nadat hulle weg is. Die polisie en nooddienste was gou op die toneel maar kon niks meer vir Roelf doen nie. Hy is op die toneel dood verklaar.

‘n Vriendin van die egpaar het die naweek aan Vaalweekblad gesê Elmarié is erg getraumatiseer en verpletter deur haar man se dood. Sy gaan tans by familie in Oranjeville tuis. Roelf was in sy jonger jare as vlugingenieur aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (nou SAA) verbonde.

Verskeie oudkollegas soos oud SAA-kaptein Dudley Steenkamp en Danny Biermann het hul skok en leedwese oor sy dood op Facebook uitgespreek. Kapt. Steenkamp sê hy en Roelf het veral in die 1980’s gereeld ‘n kajuit gedeel – (Steenkamp as kaptein en Roelf as vlugingenieursbeampte). Hy sal Roelf altyd onthou as ‘n “great guy”.

Die Van der Merwe-egpaar was voorheen eienaars van die Herberg Hotel in Oranjeville. Hulle was veral bekend onder die hengelgemeenskap van die omgewing, wat hul vergaderings gereeld by die hotel gehou het. Hengelaars beskryf Roelf op Facebook as ‘n vriendelike en saggeaarde mens wat baie gewild onder inwoners was. Hy was die pa van twee volwasse seuns, Charl en Jaco, en oupa van vyf kleinkinders. ‘n Gedenkdiens is Vrydagoggend, 29 Januarie, by Die Herberg Hotel vir Roelf gehou. Weens die inperking is dit elektronies opgeneem vir vriende en familie wat dit nie kon bywoon nie.

OPVOLGiNLiGTING:  Vaalweekblad het nie-amptelik verneem dat die egpaar se gesteelde voertuig teruggevind is, maar dit is nog nie amptelik deur die polisie bevestig nie.

* Enigiemand wat inligting oor die rooftog en moord het, word versoek om die stasiebevelvoerder, kapt. Patience Mahlatsi, by 082 465 3012 of speur-konstabel Motloung by 073 982 8902 of (016) 974 6841 te skakel.

Wyle Roelf van der Merwe (68), hier saam met sy vrou, Elmaré.
Die moordenaars het in die egpaar se Volkswagen Polo (registrasienommer: HGX 515 FS) gevlug.
Wyle Roelf van der Merwe (68), hier saam met sy vrou, Elmaré.

  ****************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button