Retha Fitchat
VEREENIGING. – Die grendeltyd raak nie net wetsgehoorsame burgers nie. Dit beperk ook skelms se beweegruimte en verminder hul geleenthede om kwaad te doen. Om dié rede kom sekere soort misdade tans minder voor, maar dit floreer steeds waar skelms ongesiens hul onderduimse werk kan voortsit.
Rodney van Rensburg van Imbewu Specialised Security sê dit is opmerklik dat skelms deesdae toenemend die elektroniese media benut om misdaad te pleeg. Een van die soort misdade wat toeneem, is “romantiese” internetswendelaars, veral dié wat eensame vroue in ‘n lokval lei om geld vir hulle te stuur. “Dit is tans ‘n groot probleem en lei tot groot finansiële verliese, veral vir ouer weduwees,” sê hy.Huis- en besigheidsrooftogte neem ook toe, sê Rodney. Wees ook maar versigtig as jy alleen stap of ry. Skelms is blykbaar hongerder en dus waaghalsiger as voor die inperking, is sy mening.
Hoewel Imbewu in die Vaaldriehoek gebaseer is, werk Rodney saam met ‘n nasionale netwerk van manlike sowel as vroulike ondersoekers dwarsoor Suid-Afrika om oortreders vas te trek. Hul werk sluit onder andere moord-, verkragting- en veediefstalondersoeke in, maar ook ontrouheidsondersoeke, huis- en besigheidsroof, internetswendelary, korrupsie, afpersing en omkopery. Uiterste vertroulikheid is in alle gevalle hul wagwoord.
‘n Saak wat hom na aan die hart lê, is die toenemende getal vermiste mense, veral kinders. “Daar is verskriklik baie persone wat as vermis aangemeld word en ongelukkig ‘n paar wat nooit weer gevind word, of nie lewend gevind word nie. Gesinsgeweld is tans op sy hoogste ooit, en geweld teenoor kinders is ook aan die toeneem. Om dié rede het ons ‘n eenheid gestig wat op sulke sake reageer. Die eenheid is afhanklik van borgskappe uit die publiek,” sê Rodney.
Imbewu werk in noue verband saam met Kinderbeskermingsdienste en help ook met ondersoeke in onderhoudseise. Die werk stop egter nie hier nie. Korporatiewe forensiese ondersoeke, die insameling van fotografiese waarnemingsgetuienis (surveillance photografic evidence) en die ondersoek van individue se krediet- en misdaadrekords hou die span nog net so besig soos voor die inperking.
Daar is tans ook ‘n groot aanvraag na dienste soos die opsporing van verlore elektroniese data en rekords, WhatsApp-herwinning, sellulêre opsporing (tracing) en selfoon-bugging, sê hy.
Rodney, wat verskeie diplomas en sertifikate in kriminele reg en ondersoekende werk behaal het, praktiseer al meer as 25 jaar en sy kliënte sluit onder andere groot korporatiewe maatskappye, regsfirmas, finansiële instellings en versekeringsmaatskappye in, maar spesialisondersoeke word ook vir private individue gedoen.“My ervaring met huidige misdaadtendense is dat jy enigiets van enigiemand moet verwag. Baie mense is tot misdaad in staat. Wees paraat sodat jy nie aan misdadigers ‘n geleentheid gee om jou aan te val, te besteel of te beswendel nie, is sy raad.
Meer inligting oor Imbewu se dienste is beskikbaar by https://www.iss-investigations.org/ of kontak hom by rodney@imbewupi.co.za
