VF Plus vra Gautengse LUR vir omgewingsake om in te gryp by verval van Suikersbosrand-natuurreservaat
Die VF Plus het die Gautengse LUR van ekonomiese ontwikkeling, landbou en omgewingsake, Parks Tau, versoek om dringend ondersoek in te stel na die verval van die Suikerbosrand-natuurreservaat. Die reservaat is tussen Meyerton en Heidelberg geleë. Dié provinsiale departement is verantwoordelik vir die bestuur en instandhouding van reservate en parke onder sy beheer. Kobus Hoffman …
Die VF Plus het die Gautengse LUR van ekonomiese ontwikkeling, landbou en omgewingsake, Parks Tau, versoek om dringend ondersoek in te stel na die verval van die Suikerbosrand-natuurreservaat. Die reservaat is tussen Meyerton en Heidelberg geleë.
Dié provinsiale departement is verantwoordelik vir die bestuur en instandhouding van reservate en parke onder sy beheer.

Kobus Hoffman VF Plus lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng sê die reservate en parke lewer ‘n broodnodige finansiële inspuiting tot die plaaslike ekonomie en die VF Plus sal sy verantwoordelikheid versuim deur die LUR nie aanspreeklik te hou vir die agteruitgang van die reservaat nie. Die party gaan ook aandring op die nodige finansiële verslae om die bestuursproses te volg.
“Die gewilde natuurreservaat het in die verlede gespog met groot getalle natuurliefhebbers wat dit besoek het om van die staproetes te volg, die meer as 200 verskillende voëlspesies te besigtig of per motor na die verskeidenheid boksoorte te kyk.
“Dit is nou egter vuil, verwaarloos en vervalle. Dit wil ook voorkom of van die wildsbokke onwettig gestroop word,” sê Hoffman.
Volgens Hoffman sal die VF Plus druk op Tau plaas om die probleem te behandel sodat besoekers, soos in die verlede, die reservaat kan besoek om die natuurlewe te geniet.
