Local newsNationalNewsNews

Distriksmunisipaliteit “fladder doelloos rond” sonder burgemeester

VEREENIGING. - Die Sedibeng Munisipaliteit sit steeds sonder ’n uitvoerende burgemeester na die tragiese afsterwe van uitvoerende burgemeester Busisiwe Modisakeng op 8 Januarie 2021.

Modisakeng se ontydige heengaan volg kort op die hakke van die moord op die munisipale bestuurder, Stanley Khanyile in Oktober verlede jaar.

Stanley Khanyile, die voormalige bestuurder van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, wat verlede jaar in ‘n parkeerterrein in Alberton afgemaai is. Foto: Verskaf

Beide Modisakeng en Khanyile se name word in ’n 149-bladsy verslag oor onreëlmatige aanstellings en betalings van amptenare en maatskappye by die munisipaliteit genoem.

’n Onlangse sluipmoord op ’n lyfwag van die munisipaliteit se speaker, Andiswa Mosai, dui verder op onderlinge politieke struwelinge wat agter die skerms aangaan.

Andiswa Mosai, speaker van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, wie doodsdreigemente ontvang het en wie se lyfwag vermoor is in ‘n sluipmoordaanval. Foto: Verskaf

Die DA se streeksvoorsitter in die Vaaldriehoek, Dennis Ryder, het Maandag in ’n verklaring gesê die munisipaliteit “fladder doelloos rond” sedert Modisakeng se tragiese heengaan aan die begin van die jaar.

Ryder meen ’n “interne stryd” skuil agter die vertraging waar dit kom by die aanstelling van ’n nuwe burgemeester.

Dennis Ryder, die DA se streeksvoorsitter in Gauteng. Foto: Verskaf

“Hoewel ons almal treur oor haar heengaan, moet die distriksmunisipaliteit voortgaan.

“Volgens wet ontbind die burgemeesterskomitee met die afsterwe van ’n burgemeester en moet beide ’n nuwe burgemeester ene burgemeesterskomitee gekies word.

“Tans het die distrik geen geldige burgemeesterskomitee in plek nie en die munisipaliteit sit gevolglik reeds langer as ’n maand sonder leiding,” het Ryder in die verklaring gesê.

Ryder sê voorts dat hoewel die relevante wetgewing onduidelik is oor hoe lank ‘n munisipaliteit sonder burgemeester mag funksioneer, die vervanging van ‘n raadslid binne 21 dae moet plaasvind.

“’n Geskeduleerde raadsvergadering waartydens ’n nuwe burgemeester verkies moet word is boonop onlangs uitgestel, wat beteken dat die pos steeds nie gevul is nie,” sê Ryder.

“Die Demokratiese Alliansie (DA) beskou dit as die ideale geleentheid vir die Departement van Samewerkende Regering (COGTA) om die munsipaliteit onder administrasie te plaas,” sê Ryder.

“In die forensiese verslag wat die LUR vir COGTA, Lebogang Maile, verlede jaar uitgereik het is ’n gedetailleerde uiteensetting van stappe wat die munisipaliteit en raad moet neem, elke stap met spesifieke sperdatums en uitkomste.

Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering. Foto: Verskaf

“Nie een van hierdie stappe is geneem nie en die wyle burgemeester het nog laas vir ’n uitstel gevra,” meen Ryder.

Volgens hom misluk die distriksmunisipaliteit steeds klaaglik om sy grondwetlike verpligtinge (insluitend die fasilitering van dienslewering in sy plaaslike munisipaliteite) na te kom en is nuwe leierskap dringend nodig.

“Inwoners van die Vaal word al te lank soos tweederangse burgers van Gauteng behandel, terwyl die Sedibeng-streek van die ANC hul posisies vir selfverryking misbruik.

“Dit kan nie wees dat daar nog vyf weke na die dood van ‘n burgemeester ‘n vakuum bestaan ​​nie.

“Die DA vra daarom dat die Gautengse Premier David Makhura en LUR Maile ’n dringende vergadering reël sodat ’n nuwe burgemeester verkies kan word,” het Ryder afgesluit.

Die DA vra dat die Gautengse Premier David Makhura intree tot die situasie. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button