Local newsNationalNewsNews

Ontevrede kliënte wend hulle tot hof oor sleepwamaker

VANDERBIJLPARK. - Die net is besig om al stywer te span om Dewald van Rooyen, ’n plaaslike sleepwamaker met ‘n lang lys van ontevrede kliënte wat almal beweer dat Van Rooyen hulle geld skuld.

*Die berig het die eerste keer in die Vaalweekblad van 10 Februarie verskyn.

Verskeie ontevrede kliënte eis gesamentlik R157 147.84 van dié Vanderbijlparkse sleepwamaker wat glo geld geneem het vir die bou van waentjies, maar nie sy gedeelte van die ooreenkomste nagekom het nie.

Minstens ses ontevrede kliënte vertel in beëdigde verklarings dat Van Rooyen hulle duisende rand skuld.

Hulle het hul Vrydag, 5 Februarie gelyktydig na die Hof vir Klein Eise gewend in ‘n poging om die geld wat hulle aan Van Rooyen betaal het vir die bou van sleepwaens, te verhaal.

‘n Paar van Dewald van Rooyen se ontevrede kliënte (met familielede tussenin) Vrydag, 5 Februarie by die hof in Vanderbijlpark. Van links: Susan Claassen, Freek de Bruin, Cindy de Bruin, Alta de Bruin, Tony Brazao, Gerda Brazao, Francis Cloete, Christelle Cloete en Joe Cupido. Foto: Christiaan Cloete

* Pastoor Francis Cloete, ‘n Gautengse evangelis, eis ‘n bedrag van R12 800.

Cloete sê hy het vir Van Rooyen in Oktober verlede jaar gevra om vir hom ‘n sleepwa volgens spesifikasies te bou wat as ’n mobiele verblyfeenheid sou dien vir reise deur die land. Cloete vertel dat hy eers ‘n depostio van R7 000 aan Carina van Vuuren, ‘n vriendin van Van Rooyen, moes oorbetaal voordat werk kon begin en dat hy later bedrae van R11 500 en R2 500 betaal het.

Nadat Van Rooyen later vir Cloete foto’s van die sleepwa deurgestuur het, het hy gemerk dat die vensters verkeerd ingesit is.

Cloete het met Van Rooyen daaroor gepraat en hy het glo onderneem om dit reg te maak.

Daarna was dit glo ‘n gesukkel om hom in die hande te kry en Cloete het Van Rooyen se kleinhoewe verskeie kere besoek om hom daar te gaan soek.
Cloete sê hy sou later uitvind dat Van Rooyen sy sleepwa aan ‘n man van Rustenburg verkwansel het.

Nadat Cloete Van Rooyen daaroor gekonfronteer het, het Van Rooyen glo onderneem om al die geld terug te betaal. Cloete sê Van Rooyen skuld hom nog R12 800.

Een van verskeie verklarings wat deur ontevrede kliënte afgelê is. Foto: Verskaf

* Jim Cupido vertel dat hy in 2019 ‘n bedrag van R27 000 in die rekening van Carina van Vuuren, ‘n vriendin van Van Rooyen, moes betaal voordat Van Rooyen vir hom ‘n sleepwa kon bou.

Cupido vertel dat hy eers die deposito van R17 000 betaal het, en toe later ‘n bedrag van R10 000 voordat Van Rooyen die voltooide sleepwa vir hom sou aflewer.
“Dewald het aanvanklik gesê dat hulle die sleepwa verkeerdelik in Senekal afgelewer het. Dit is toe Westonaria toe en so het hy een verskoning na die ander opgedis,” vertel hy.

Cupido vertel hoe hy telkens probeer het om Van Rooyen in die hande te probeer kry, maar dat Van Rooyen óf nie sy foon geantwoord het óf sy nommer herhaaldelik verander het.

Volgens Cupido is ‘n waentjie in ‘n stadium aan hom afgelewer, maar die waentjie het nie ‘n rem-as, onderstel of dataplaatjie gehad nie en hy het gevolglik vir Van Rooyen gevra om die brouwerk reg te maak.

Cupido het nooit weer die waentjie of sy geld gesien nie. Cupido sê hy het reeds ‘n klag van diefstal teen Van Rooyen aanhangig gemaak. Hy eis R27 000 van Van Rooyen.

Nog ‘n verklaring van ‘n ontevrede kliënt. Foto: Verskaf

* Tony Brazao vertel dat hy ‘n sleepwa by Van Rooyen vir R26 000 gekoop het, maar toe hy die sleepwa in ontvangs neem, ontdek het dat daar fout is daarmee.
Van Rooyen het glo die sleepwa by Brazao kom optel met die belofte om dit reg te maak. Brazao vertel dat hy nooit weer die sleepwa of sy R26 000 gesien het nie.
Volgens Brazao het Van Rooyen een verskoning na die ander aangebied.

Soos wat ook die geval was met die ander sake, vertel Brazao dat Van Rooyen hom versoek het om die geld aan Carina oor te betaal alvorens werk kon begin.
Brazao het hom tot die Hof vir Klein Eise gewend om die bedrag van R26 000 van Van Rooyen te verhaal.

* Nog ’n eiser, Susan Claassen, vertel dat Van Rooyen in ‘n stadium geboue by haar gehuur het. Sy het hom glo R5 000 betaal om ‘n waterwaentjie vir haar te bou wat 1 000 liter kon dra, maar die vooltooide waentjie is so vrot gebou dat dit nie eers 300 liter water kon dra nie.

Boonop kla sy dat Van Rooyen haar huurgeld van R15 000 en elektrisiteitsgeld van R15 487.84 skuld.

* Freek de Bruin beweer Van Rooyen skuld hom R48 500 nadat hy vir Van Rooyen gevra het om vir hom ‘n sleepwa en paraffientenk te bou vir ‘n bedrag van R99 500.

Nadat die geld in die rekening van Carina betaal is, vertel de Bruin dat Van Rooyen eers “na helse gesukkel” vir hom die tenk gebring het, maar dat dit gelyk het of dit van ‘n vragmotor af gegooi is. Die tenk was egter ook sonder voetstukke.

Die net span al hoe nouer om Dewald van Rooyen namate al hoe meer ontevrede kliënte geld van hom eis. Foto: Verskaf

Die waentjie is ook later afgelewer, maar De Bruin was nie tevrede daarmee nie aangesien die waentjie nie ’n briek-as gehad het nie. Van Rooyen het die waentjie geneem onder die voorwendsel dat hy dit sou regmaak, maar dit nog nie teruggebring nie.

* Nog ’n kliënt, Hulisani Mabaya, eis R12 000 nadat hy glo vir Van Rooyen gevra het om vir hom ‘n sleepwa te bou. Die waentjie is nooit by hom afgelewer nie.

* Vaalweekblad het Dewald van Rooyen om kommentaar genader. Hy het per WhatsApp-boodskap laat weet dat hy bewus is van al die eise wat teen hom ingestel is. Volgens hom bou hy nie meer weantjies nie, aangesien sy besigheid nou toe is.

Die WhatsApp boodskap wat Dewald aan Vaalweekblad gestuur het. Foto: Verskaf

Hy sê sy prokureur help hom om alles uit te sorteer en dat hy mettertyd “bewyse” aan Vaalweekblad sal voorsien, maar dat hy dit in dié stadium nie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button