Local newsNationalNewsNews

Gholf-dag om Marlo te help

MEYERTON. - Die vyfjarige Marlo Nagel van Meyerton het dit nie maklik nie. Hy ly aan serebrale gestremdheid wat ’n verlamming van al vier sy ledemate veroorsaak.

Marlo kan nie loop nie en kan ook nie praat nie.

Gelukkig het Marlo in sy pa, Marco Nagel (28), ma, Jackie Nagel (30) en sy jonger sussie, Nienke (3) ’n wonderlike en liefdevolle ondersteuningsraamwerk wat goed na hom kyk en daar is vir hom.

Marlo saam met sy ma en sussie. Foto: Verskaf

“Ons is ouers wat enige iets vir ons kind sal doen. Ons sal hom nooit net aan sy eie genade oorlaat nie.

“Hy het nie gevra om so te wees nie. Die Here het goed gedink om Marlo vir ons te stuur,” vertel sy ma, Jackie.

Marlo se ouers droom van ’n dag wat hy met hulle sal kan kommunikeer – en in die tegnologies gevorderde eeu waarin ons leef is hierdie droom nie te vergesog nie.

Jackie en Marco het besluit om op 12 Maart ’n gholfdag by die Meyerton-gholfklub te hou om geld in te samel vir ’n slimtoestel (“Eye Gaze Device”) wat deur middel van infrarooi sensors vir Marlo kan help om met behulp van sy oë te kommunikeer.

‘n “Poster” vir die gholfdag wat beplan word. Foto: Verskaf

Jackie vertel: “Ons het nou die geleentheid om Marlo te help om met ons te kommunikeer deur ’n tegnologie genaamd ‘Eye Gazing’ of ‘Eye Tracking’”.

“Deur gebruik te maak van hierdie tegnologie sal Marlo ons met behulp van die beweging van sy ogies op ’n tabletskerm kan wys wat hy wil eet of drink, en hy gaan emosie kan uitdruk.

“Marlo wil so graag gesels maar hy kan nie.

“Ons as ouers wil graag die toestel vir hom aanskaf omdat dit vir Marlo ‘n eens in ‘n leeftyd geleentheid is,” vertel Jackie.

Hierdie apparaat kos egter R66 000 en met die gholfdag hoop Marlo se ouers om genoeg geld in te samel om die toestel te kan aanskaf.

Marlo se ouers hoop dat hy met behulp van ‘n sogenaamde “Eye Gazing Device” met hulle sal kan kommunikeer. Foto: Verskaf

Volgens Marco het hulle eers ’n jaar nadat Marlo gebore is ontdek dat hy nie soos ander kinders is nie, nadat Marlo nie al sy ontwikkelingsmylpale behaal het nie.

Marlo is op 12 Januarie 2017 met serebrale gestremdheid gediagnoseer.

Daar is gereël vir ’n MR-skandering en Marlo moes gaan vir fisio, sowel as spraak- en arbeidsterapie.

“Ons het aan die begin gesukkel omdat ons nie regtig geweet het was dit beteken dat ons kind serebraal gestremd is nie,” vertel Jackie.

Later het ons Marlo na ’n ander dokter toe geneem wat bevestig het dat Marlo wel serebraal gestremd is en dat al vier sy ledemate daardeur geraak word.

“Die dokter het voorgestel dat ons vir Marlo ’n rolstoel koop. “Ons moes dit teen R19 000 self aanskaf omdat die mediese fonds nie daarvoor wou betaal nie,” vertel Jackie.

Volgens Marco wil die mediese fonds ook nie vir Marlo se “Eye Gazing”-toestel betaal nie omdat dit nie lewensvatbaar is nie.

Jackie en Marco het ook al baie ander mediese onkostes aangegaan.

“Op 5 Februarie 2019 het Marlo sy eerste operasie gehad waartydens dokters sy hampies verleng, en sy spiertjies in sy binne bene, by sy lies is af gesny sodat

Marlo nie oorkruis kan loop nie.

“Marlo het ook botox gehad.

In dieselfde jaar rondom Augustus was Marlo weer teater toe vir botox.

“In April 2020 is Marlo se skouerspiertjies verleng en hy het weer botox ontvang.

“Marlo moet ten minste twee keer ‘n jaar botox kry sodat hy nie styf word nie. Die botox help om sy spiertjies slap te maak,” vertel sy.

Boonop gaan Marlo drie keer ’n week vir fisio- en spraakterapie.

Marlo Nagel (5) in sy rolstoel. Foto: Verskaf

Die gholfdag vind op Vrydag, 12 Maart by Meyerton-gholfklub in Carvalhostraat in Meyerton plaas en begin om 08:00.
Vir meer besonderhede oor die gholfdag skakel Marco by 083 377 6218 of Jackie by 082 363 0941.
Daar is onder andere ’n weeklange vakansie in Amanzimtoti en spitbraaie te wen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button