Musiekliefhebbers groet gewilde kitaarspeler Johan (Boesman) Senekal
Hy was deur die jare ook gereeld deel van orkeste wat die musiek verskaf het by optredes van bekende sangers soos Bles Bridges, Lance James, Bobby Angel en meer
Soos gepubliseer in Vaalweekblad van 17 Februarie 2021
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Die naaste familie en vriende van een van die Vaaldriehoek se bobaas-baskitaarspelers, Johan (Boesman) Senekal, het Saterdag hul laaste eer aan hom bewys nadat hy op 6 Februarie in die Sebokeng-hospitaal weens Covid-19 beswyk het.
Volgens sy dogter, Tanya, het hy in November verlede jaar ‘n operasie aan sy kakebeen in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal ondergaan nadat osteomiëlitis (inflammasie in sy onderkaak) by hom gediagnoseer is. Op 15 Januarie is haar ouers terug na die hospitaal vir ‘n opvolgondersoek. Die gesin vermoed dit is toe dat Johan die Covid-19 virus opgedoen het.
Op 20 Januarie het hy gekla dat hy nie lekker voel nie, waarna hy vinnig agteruit gegaan het. Hy is die volgende dag per ambulans hospitaal toe vervoer nadat hy in ‘n semi-koma gegaan het weens te min suurstof in sy bloed. Weens die streng inperkingsreëls kon sy vrou, Elmarie, hom in die volgende drie weke net drie keer in die hospitaal besoek.
Sewentien dae na sy opname moes sy geliefdes die ontstellende nuus verwerk dat hy sy stryd teen die virus verloor het.
Hoewel Johan se kitaar nou stil is, sal sy gesin en baie musiekliefhebbers hom altyd vir sy uitsonderlike spel en musikale talent onthou. Marius de Vos van IFM 102.2, een van Suid-Afrika se voorste kenners van ligte musiek, sê Johan was met sy unieke en skitterende styl ‘n gesogte keuse op die baskitaar. Hy het deur die jare kitaar gespeel in verskeie bekende orkeste soos Dynamic Stars Dansorkes en Wessie van der Westhuizen se Boereorkes, wat gereeld op die destydse Radio Suid-Afrika se “Konsertina Klub” gehoor is.
Johan was deur die jare ook gereeld deel van orkeste wat die musiek verskaf het by optredes van bekende sangers soos Lance James, Bobby Angel, Manie Jackson, Sally Vaughn en Caroline du Preez. Selfs die legendariese Bles Bridges het aan die begin van sy sangloopbaan graag saam met die orkes in Johan se motorhuis geoefen – die laaste keer was net twee weke voor Bles se tragiese dood in ‘n motorongeluk in 1999.
Volgens Tanya was haar pa veral lief vir Country-musiek. Nóg ‘n groot liefde was rugby. Johan was ‘n geswore Leeus-ondersteuner en het graag na wedstryde op Ellispark gaan kyk. “Hoewel hy baie kwaai en streng was, was hy ‘n baie goeie pa vir my en my twee broers en ‘n ware rolmodel en vaderfiguur vir my 16-jarige seun,” sê Tanya.
Buiten sy glanslewe in die musiekbedryf het Johan sedert die laat 1960’s ook ‘n “gewone” werk by ArcelorMittal gehad, waar hy na 33 jaar diens ‘n pakket aanvaar het. Soos baie ander inwoners van die Vaaldriehoek het hy sy pakket gedeeltelik in die Krion-skema belê en alles verloor. Daarna moes hy weer begin werk en was die afgelope 19 jaar in diens van Fred’s Machine Tools in Vanderbijlpark.
* Wyle mnr. Senekal, wat in Desember 69 geword het, word buiten Elmarie en Tanya ook deur twee seuns, Etienne en Morné, en sy kleinkinders oorleef. ‘n Roudiens vir dié gewilde en geliefde musikant is verlede Saterdag volgens inperkingsregulasies in Etienne se tuin in Vanderbijlpark gehou.



