News

Vermiste Emfuleni-diensvoertuie in KwaZulu-Natal en Limpopo opgespoor

Die staat gaan na verwagting borgtog teenstaan vir ’n sakeman wat van bedrog, korrupsie en diefstal aangekla word in verband met ’n Emfuleni-vlootkontrak van R16 miljoen.

VANDERBIJLPARK. – Sewe voertuie wat glo ingevolge ’n multimiljoenrand-tender aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gelewer moes word, is by ander instansies in KwaZulu-Natal en Limpopo opgespoor.

Mpho Malema (40), eienaar van Maboela Forestry and Construction, het Maandag, 7 September, vlugtig in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn.

Sy saak is tot Maandag, 14 September, uitgestel vir verdere verrigtinge en ’n moontlike borgtogaansoek. Die staat het aangedui dat sy vrylating op borgtog teengestaan sal word.

Malema staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en diefstal wat verband hou met ’n munisipale vlootkontrak wat tussen 2022 en 2023 toegeken is.

Die kontrak het na bewering die aankoop van 18 voertuie, waaronder UD-vragmotors, Toyota-bakkies en padskrapers, behels.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, het Emfuleni glo R16 miljoen aan Malema se onderneming betaal om die voertuie aan te koop. Die voertuie is egter na bewering nie soos ooreengekom aan die munisipaliteit gelewer nie.

Sewe van die voertuie is intussen by ander instansies teruggevind, terwyl die oorblywende voertuie steeds vermis word.

Malema is Donderdag by ’n winkelsentrum in Pretoria deur lede van die Gautengse taakspan vir politieke moorde (PKTT) in hegtenis geneem. Sy inhegtenisneming het gevolg op ’n ondersoek na die omstrede vlootkontrak.

Die hof het gelas dat formele borgtogondersoeke voor sy volgende verskyning afgehandel word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button