VANDERBIJLPARK. – Inwoners van sommige strate in SE2 kook van woede nadat iemand die afgelope weke voëltjies en katte in die omgewing met ‘n windbuks skiet.
Meeste van die inwoners wat gekla het, woon in Grahamstraat, maar klagtes is ook ontvang van mense uit Lombaard-, O’Kullis-, Oosthuizen- en Melt Brinkstraat.
Die inwoners vermoed wie die skuldige is en gaan nou saamstaan om hom uit te vang.
“’n Baie liefdevolle gemmerkat is die mees onlangse slagoffer. Die diertjie is in die gesig geskiet.
Besef die persoon dat hy per ongeluk ‘n kind of grootmens in die oog kan tref? Ons kan hierdie situasie nie langer ongestraf laat bly nie,” sê ‘n ontstoke inwoner.
Verskeie inwoners het op plaaslike selfoongroepe onderneem om saam te staan om die skuldige vas te trek en hopelik foto’s te neem sodat ‘n amptelike klag by die polisie ingedien kan word.
“Ons gaan nie huiwer om die skuldige aan die pen te laat ry nie, selfs al is dit een van ons bure of hul kinders,” sê die inwoner namens die klaers.
* Jy hoef nie ‘n lisensie te hê om ‘n windbuks te besit nie, maar daar mag nie in beboude en residensiële gebiede geskiet word nie.
Solidariteit Regsdienste wys daarop dat mense wat hulle hieraan skuldig maak, vervolging in die gesig staar.
Indien jy iemand tref of vermink (byvoorbeeld in die oog skiet), kan jy van poging tot moord of poging tot manslag aangekla word en uiteindelik ‘n kriminele rekord kry.
Jy sal ook vir die skade aanspreeklik wees as jy byvoorbeeld iemand se huisvenster uitskiet of enige ander skade aan iemand se eiendom veroorsaak.
Indien jy ‘n dier sou tref of selfs wilde voëls in ‘n dorpsgebied skiet, kan jy deur die Dierebeskermingsvereniging aangekla word en ‘n stywe boete opgelê word.
Solidariteit Regsdienste beveel aan dat jy jou ketties en windbukse wegbêre tot jou volgende plaasvakansie en in die tussentyd liewer ‘n sterk waterpistool moet kry om lastige katte of voëls te verjaag.

*****************************************************************************************************
