News

Hoërskool Vanderbijlpark se flukse boerenooi sterf na lang siekbed

‘n Bekende inwoner van die dorp, mev. Anna (Fivaz) Ries (82), is op 16 Februarie na ‘n siekbed van ses maande aan pankreaskanker oorlede.

 

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. ‘n Bekende inwoner van die dorp, mev. Anna (Fivaz) Ries (82), is op 16 Februarie na ‘n siekbed van ses maande aan pankreaskanker oorlede.

Volgens haar enigste dogter, mev. Trudi Croukamp, is sy in Augustus verlede jaar met die siekte gediagnoseer. Mev. Ries was die afgelope 16 jaar ‘n inwoner van Herfsoord maar het die laaste vyf maande van haar lewe by haar kleindogter Franci Heath in Vanderbijlpark gebly, waar sy tot met haar dood deur haar familie en tuisversorgers van die agentskap We Care versorg is.

Wyle mev. Ries, wat in April 83 sou word, was die dogter van bekende boere van die kontrei, mnr. Bert en mev. Truia Fivaz, wat ook al lankal oorlede is. Hulle het op die plaas Rietfontein geboer, waar die huidige Maraldi Estate en Edge on the Vaal-meenthuise vandag langs die Vaalrivier aan die Vrystaatkant staan.

Anna, wat van haar jong dae af ‘n flukse boerenooi was, het in 1954 met die ingebruikneming van Hoërskool Vanderbijlpark se nuwe geboue in Shakespearestraat, aangebied om die rowwe skoolterrein met ‘n trekker om te ploeg. Sy was toe maar ‘n skrale 17 jaar oud. Saam met haar pa het hulle vroeg een oggend ‘n trekker en tweeskaarploeg per pont oor die Vaalrivier skool toe gebring.

Die Baddrift-brug was in daardie stadium nog nie gebou nie en van teerpaaie was daar in die jong dorp nog min sprake. Anna het woord gehou en ‘n groot deel van die terrein omgeploeg. In die opvolgende dekades het Hoërskool Vanderbijlpark met welige grasperke, pragtige roostuine en netjiese sportgronde gespog op die terrein wat sy help voorberei het.

“Sy was ‘n omgeemens met ‘n groot hart en oop hand wat haar Skepper altyd eerste gestel het. Haar liefde vir haar medemens sal my altyd bybly,” sê haar dogter, Trudi.

Anna was tot op die ouderdom van 80 nog ‘n kranige rolbalspeler en het etlike kere provinsiale kleure vir die sport ontvang.Buiten haar man, Edwin Ries van Herfsoord, Trudi, twee kleinkinders en sewe agterkleinkinders, word sy ook oorleef deur ‘n broer, Antonie Fivaz (90) van Bultfontein en drie susters, Gerrie Riekert, Alida Cilliers en Martie Buys. Hul ander broer, Bert Fivaz is in 2019 oorlede en hul oudste suster, Lien Gronum, in 2008.
Wyle mev. Ries se troosdiens is verlede Sondag volgens inperkingsregulasies gehou

Wyle mev. Anna Ries
Anna, toe ‘n 17-jarige standerd 9-leerling, ploeg die Hoërskool Vanderbijlpark se skoolterrein in 1954 om terwyl die destydse skoolhoof, mnr. J.T. van Wyk, toekyk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button