
Megan se 7 A’s het begin by Disa Pre-primêr: Waar môre se leiers gevorm word!
MEYERTON. – Daar word dikwels na die eerste ses jaar van ‘n kind se lewe as die “goue jare” verwys. By Disa Pre-Primêr verstaan die goed opgeleide personeel die deurslaggewende rol wat hulle saam met ouers speel om ‘n soliede fondasie in ‘n kind se persoonlike ontwikkeling en latere akademiese vordering te vestig.
Behalwe vir basiese taalvaardighede soos praat, lees en skryf, en basiese wiskunde soos tel en eenvoudige somme, is daar nog ‘n hele klomp ander vaardighede wat kleuters by kleuterskole aanleer om hulle skoolgereed te kry.
Buiten dat ‘n kind hier vir die res van sy skoolloopbaan voorberei word, kan enige probleem-areas ook betyds geïdentifiseer word. Vandag kan Disa Pre-Primêr spog met vele matrieks wat deur die jare uitsonderlik presteer het nadat hulle hul vormingsjare by dié kleuterskool deurgebring het.
Een van hulle is Megan van Heerden, spogmatrikulant van Hoërskool Dr. Malan, wat sewe onderskeidings in die afgelope eindeksamen behaal het. Disa Pre-Primêr, geleë in Meyerton, se leuse is “Waar môre se leiers gevorm word”. Dis hier waar Megan op 3-jarige ouderdom haar kleuterskoolfase begin het: ‘n Leerder wat sonder twyfel die kleuterskool se leuse dwarsdeur haar skoolloopbaan uitgeleef het.
“Megan is ‘n gebore leier en sy blink net uit in alles wat sy aanpak, of dit nou sport of akademie is. Ons is ongelooflik trots op haar en elke prestasie wat sy bereik het,” sê Tessa Nienaber, voormalige hoof van Disa. Volgens haar ma, Jenny, was Megan eintlik ‘n baie stil, skaam dogtertjie toe sy op 3-jarige ouderdom haar “skoolloopbaan” by Disa begin het.
“Disa het met hul ongelooflike goeie onderwysers en beginsels beslis ‘n groot en stewige bousteen in Megan se fondasie gelê. Sy het vinnig ontwikkel in ‘n ware leiertjie, en haar liefde vir skool en boeke is daar gekweek,” sê Jenny. “Ons dank ons Hemelse Vader vir al Sy seën, en vir wonderlike mense soos dié by Disa, wat ‘n groot positiewe impak op haar lewe gemaak het.”
Disa Pre-Primêr is in Shippardstraat, Meyerton, en kan gekontak word by (016) 362 0731.
Foto ‘s
Megan as driejarige kleutertjie by Disa Pre-Primêr.
Megan saam met Louise Kriel (hoof) en Leana Ives (onderhoof) by Disa
Megan saam met Tessa Nienaber (voormalige hoof van Disa).
********************************************************************************************
