Die prys wat ons betaal vir veseloptiese netwerke… – Raadslid Phillip Nothnagel:
"Miljoene liters water is reeds verloor agv pype wat deur die kontrakteurs beskadig is."
Die prys wat ons betaal vir veseloptiese netwerke…….
Raadslid Phillip Nothnagel van Wyk 5 in die Emfuleni Plaaslike Raad skryf:
Dit is hartverskeurend om te aanskou hoe ons eens pragtige dorp Vanderbijlpark onder die ANC beheerde Stadsraad sedert 1994 finaal besig is om in een te stort.
Die dorp se gebrekkige en gelapte infrastruktuur soos paaie, straatligte, elekrisiteit en waternetwerke is ‘n sprekende voorbeeld van presies hoe swak dit in ons dorp gaan. Die chroniese gebrek aan noodsaaklike dienslewering soos vullisverwydering, water en kragvoorsiening is besig om skrikwekkend toe te neem. Dit is egter nie al rede tot kommer nie.
Sedert verlede jaar is ons dorp met optiese veseloperateurs oorval. Verskeie nuwe veseloptiese diensverskaffers het toestemming van die Emfuleni Munisipaliteit (ELM) ontvang om optiese veselkabels regdeur Emfuleni te lê. In die proses is die onderskeie kontrakteurs wat besig is om optiese vesel in ons dorp te installeer, besig om die reeds gebrekkige ELM0-infrakstrutuur stelselmatig te verwoes.
Miljoene liters water is reeds verloor agv pype wat deur die kontrakteurs beskadig is. Geen finansiële vergoeding kan vergoed vir die water wat in die afvoerslote afgeloop het nie. Dit word sterk betwyfel of ELM ooit enige eise teen die skuldige kontrakteurs gaan indien.
Dit is nie net ELM wat hieronder ly nie. Inwoners in Wyk 5 en ook die res van ELM se tuine, opritte en besproeiingstelsels word daagliks beskadig deur van die kontrakteurs se traak-my-nie-agtige, selfs aggressiewe houding, indien inwoners dit sou waag om hulle te konfronteer oor skade wat deur hul werkers veroorsaak is.
As Raadslid is ek nie teen tegnologiese ontwikkeling gekant nie, en stem saam dat optiese vesel ‘n baie duidelike voordeel bo ADSL verbindings het in terme van spoed en kwaliteit. Dit sou egter baie beter gewees het indien ELM met die begin van die proses in sy tendervoorwaardes gespesifiseer het dat die netwerk ‘n sg. oopnetwerk moes wees wat sou beteken dat ander diensverskaffers dit sou kon gebruik het om internet aan hulle eie kliënte te verkoop.
Ek is bly om te rapporteer dat ELM sopas ‘n verklaring uitgereik het waarin die “Wayleaves” wat sedert die begin van die Grendeltyperk uitgereik is, vir alle veseloperateurs met onmiddellike effek gekanselleer word.
Uit die aard van die saak sal dit seer-seker lei tot regsaksies van die benadeelde kontrakteurs. Ongelukkig is die koeël deur die kerk, of soos die Engelse gesêgde lui: “Too little too late”
Die skade is ongelukkig reeds gedoen.
Phillip Nothnagel
Emfuleni Raadslid Wyk 5

********************************************************************************************
