Local newsNewsNews

Dinamiese Anita sê aftrede is slegs ‘n nuwe begin

Maak nader kennis met Anita Hanekom wat al langer as 30 jaar 'n daadwerklike verskil in die gemeenskap maak.

SASOLBURG. – Anita Hanekom is reeds sedert 1989 by die Groenpunt-gevangenis betrokke. Sy het haar loopbaan in 1988 as maatskaplike werker by die Pollsmoor-gevangenis begin.

Na 33 jaar diens, tree sy op 31 Maart uit as bestuurder: welsynswerk. Anita is bekend vir haar oop hand en hart vir die gemeenskap en haar absolute passie vir haar werk.

Sy is met reg trots op die projekte wat sy en haar kollegas oor die jare aangepak het.

“Ek het die gevangenes in 2003 geleer brei met oorskietwol.  Die eerste klompie lappies was baie snaaks – sommige so styf dat dit soos ‘n mat gelyk het en ander het baie gate in gehad. Uiteindelik het ek die lappies vasgehekel en besluit om dit aan behoeftige persone te skenk.”

Daardie jaar het hulle 28 komberse geskenk en in Januarie vanjaar kon hulle 101 komberse uitdeel. Daar was ook kunsklasse vir die gevangenes saam met Mattie Joubert en die gevangenis se eerste kunskompetisie in Junie 2019.

Anita was ook die een wat die inisiatief geneem het om ‘n biblioteek in Mimi Fourie Hof in Vereeniging te vestig en die biblioteek by die gevangenis uit te brei.

Sy hou van ‘n mooi tuin en het Groenpunt se tuin opgekikker deur dit wat uit hul eie tuin oortollig geraak het daar te gaan plant. “Ek het motorbande langs die paaie opgetel en daarin pryk aalwyne en ander vetplante.”

Ander lede het ook motorbande begin aandra en vandag spog die tuine met heelwat plante, van spekbome tot aalwyne. Anita se gesin is vir haar baie belangrik.

Sy en Perus Hanekom is in 1988 getroud en het twee seuns, Tobie (29) en Johan (23). Tobie is verstandelik gestremd en hierdie hartskind van haar het haar aangespoor om by gemeenskapsprojekte vir gestremde persone betrokke te raak.

Tobie is tans by die Lewensligsentrum in Vanderbijlpark en Anita het by die sentrum se fondsinsameling betrokke geraak. In 2016 en 2017 het sy Koffiehuiskonserte by die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg gehou waar plaaslike talent opgetree het.

Dit het sy opgevolg met ‘n damestee wat jaarliks gehou word. Haar stryd met Tobie het sy in 2013 begin dokumenteer en in 2014 het sy haar outobiografie, Tobie My Stryd Om Oorlewing, uitgegee.

Die boek was so ‘n groot sukses dat dit al drie keer herdruk is. Om nog ‘n boek te skryf is maar een van die projekte wat hierdie veelsydige dame nog wil aanpak.

Stilsit gaan sy beslis nie na haar aftrede nie. Daarvoor is daar nog te veel plekke om te besoek. “

Ek gaan ook nog by Lewenslig uithelp en ek wil graag by herwinning in ons gemeente betrokke raak,” vertel sy.

Vir ontspanning sal sy steeds komberse brei. “Aftrede is nie die einde van my betrokkenheid by die gemeenskap nie. Dit is net ‘n nuwe bladsy om op te werk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button