NewsSponsored

Legendariese moeder van honderde sterf, kan nou ‘by Jesus rus’

Ronel en haar man Johan het deur die jare na meer as 450 pleegkinders omgesien

Legendariese moeder van honderde kan nou ‘by Jesus rus’  

VANDERBIJLPARK. – Mev. Ronel Riekert (58) se liefde en omgee vir haar medemens het nie gestop by haar gesin en die sowat 450 pleegkinders na wie sy die afgelope 20 jaar omgesien het nie.

Dié medestigter van Jabes Foundation het ‘n onbaatsugtige hart met oneindige ruimte vir kinders gehad. Selfs terwyl sy teen ‘n terminale siekte geveg het, het sy steeds uitgereik na almal wat haar hulp nodig gehad het.

Ronel is op 25 Februarie oorlede na ‘n stryd teen myelofibrose (‘n voorloper van bloedkanker) en Covid-19.

Volgens haar man, Johan, is Ronel in November 2019 met myelofibrose gediagnoseer en het behandeling ondergaan waarop sy goed gereageer het. In Januarie vanjaar was haar onkoloog nog baie tevrede met haar toestand.

Aan die begin van Februarie het sy egter siekerig begin voel en is positief getoets vir Covid-19. In dieselfde tyd het Johan en een van die tienerdogters in hul pleeghuis ook positief getoets en al drie was in isolasie onder doktersbehandeling.

Johan en die dogter het vinnig gesond geword maar Ronel, wat ‘n asmalyer was, het gesukkel om te herstel omdat dit haar longe erg aangetas het. Haar toestand het so versleg dat sy in Mediclinic Emfuleni se intensiewe sorgeenheid opgeneem moes word, waar sy twee dae later in ‘n kritieke toestand op ‘n ventilator geplaas is.

Sy het ‘n week lank om haar lewe geveg totdat sy op 25 Februarie haar stryd verloor het.

Ronel is op 17 Mei 1968 in Pretoria gebore en het in Vanderbijlpark grootgeword. Sy en Johan was 27 jaar getroud. Die egpaar was van jongs af mal oor kinders en was die grondleggers van die nie-winsgewende organisasie Jabes Foundation, wat na pleegkinders omsien.

Hulle het oorspronklik 20 jaar gelede begin deur hul eie huis te omskep in ‘n pleeghuis onder die naam Kosmos Huis. Nóg huise het intussen bygekom en vandag bestaan Jabes Foundation buiten Kosmos Huis ook uit Protea Huis, Sonneblom Huis en Frangipani Huis. In die 20-jarige bestaan van Kosmos Huis met Johan en Ronel as huisouers, is daar reeds meer as 450 kinders deur dié huis alleen; kinders in wie se lewens Ronel ‘n onmiskenbare rol gespeel het.

“Sy sal onthou word as ‘n ystervrou wat alles gelyk kon doen: Haar gesin versorg, skoolaktiwiteite en -probleme hanteer, kinders op universiteit bystaan, die finansies laat klop, kosmaak, die huishouding aan die gang hou, die Jabes Foundation-netwerk onderhou, pleisters plak, ‘n oor aanbied om te luister, noem maar op. Sy het ook altyd gesê, eendag as sy nie meer hier is nie, gaan sy net by Jesus se voete sit en rus en Hom baie vrae vra. Toe sy gediagnoseer is met myelofibrose het sy nie gesit en haarself jammer gekry nie. Inteendeel, sy het meer spoed gevang! Sy het ‘n pad gestap met die Here en male sonder tal die Jabes-behoeftes, soos kos en finansies, van die Here afgesmeek,” sê Johan.

Hy is vasbeslote dat Ronel se ‘legacy’ gaan voortleef. Jabes Foundation gaan onveranderd voort en hy sit ook sy taak as huisvader by Kosmos Huis voort. Hy sal bygestaan word deur sy skoonsuster, Rina Riekert, wat ook reeds ‘n bekende in Jabes Foundation se ratwerk is. Wyle Ronel se selnommer (082 254 4611) bly onveranderd en sal voortaan deur Johan beantwoord word.

Ronel word buiten Johan ook oorleef deur haar moeder, vier dogters, ‘n seun, suster en broer en ook die egpaar se sewe pleegkinders wat tans in die huis is. Haar gedenkdiens is op 2 Maart by River of Life Family Church gehou en op YouTube gestroom, waar belangstellendes steeds daarna kan kyk.

FOTO:

Wyle Ronel Riekert, hier saam met haar man, Johan.

 

 

***********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button