‘Ons sal self dié kraglose wiel moet laat draai’
"Skokkend, die disrespek waarmee ‘n mens behandel word."

Zuzette Brink Odendaal van Vanderbijlpark skryf:
Die namiddag van Vrydag, 26 Februarie, het die krag in my huis afgegaan. Vandag is die 2de Maart en ek het nog geen reaksie gekry van enige platform of klagte wat ek ingestuur het nie. Ek het letterlik alles probeer.
Ek moes bederfde kos weggooi en die ander in vriende se koel- en vrieskaste laat bewaar. As ek bedoel geen reaksie dan is daar géén reaksie of enige aanduiding van wat die probleem kan wees nie. My ma van 93 jaar bly by my, so dis net ons twee.
Ek het nou ‘n kragopwekker by my loodgieter gekry om te gebruik vir ‘n paar uur op ‘n slag sodat ons darem kan stort. Skokkend, die disrespek waarmee ‘n mens behandel word. Met hierdie gesindheid en onwilligheid en onvermoë om ‘n diens te lewer, sit ons almal en hoop vir beter dae, en ek sluit myself daarby in. Die wiel sal moet draai en net ons kan hom laat draai.
Dankie vir die luister na my “gal afgaan” maar in my skoene as vrou is dit op die oomblik nie ‘n goeie plek om te wees nie.
* Verskeie organisasies, insluitend ERPA, AfriForum en die Vryheidsfront het intussen aangebied om Zuzette met haar probleem by te staan, maar Vaalweekblad kon haar nog nie weer opspoor om te hoor of dit opgelos is nie. (Vaalweekblad)
