Local newsNewsNews

Verjaardae op die PUK – dit was vet pret!

Dit was in die begin van die 1990's en ons het elke oomblik geniet.

Ek onthou ek het een jaar op my verjaardag wakker geword en net wit gesien.

My kant van die koshuiskamer was van die lessenaar tot bo-oor my bed met baie toiletpapier versier. Was omtrent ‘n stryd om deur die papier-spinnerak op te staan.

‘n Ander keer is ek verras met ‘n middernagfees op die koshuis se dak. Ons koshuis het gelukkig ‘n plat dak gehad, so dit klink gevaarliker as wat dit was.

Die jaar toe ek 20 geword het, het my liewe vriendin Tokkie, haar kamermaat en nog so ‘n paar gangmaats, my uit my bed ontvoer. Geblinddoek en al. Teen die tyd wat hul die blinddoek afgehaal het, toe staan ons in een van die badkamers.

Tokkie het plegtig ‘n borslap, babatandeborsel en ‘n buisie tandepasta vir kleuters aan my oorhandig. In haar daaropvolgende toespraak het sy verklaar dat ek nou ook grootmens is (sy is ‘n jaar ouer as ek).

Daarna het sy begin om vir my ‘n breedvoerige “les” in tande borsel te gee. Dit het natuurlik binne sekondes in ‘n tandepasta geveg ontaard wat ons goed taai en seer gelag gelaat het.

Dan was daar die keer wat ons ‘n vriendin se kêrel in ‘n groot boks maak pas het met ‘n strik op. Sy was so opgewonde oor die groot geskenk dat sy dit amper nie kon oopmaak nie. Intussen was ons benoud die arme man versmoor!

Ons het ook nie sommer enige iets vir iemand gesing op ‘n verjaardag nie.

Vir spesiale mense het ons met ernstige gesigte kring gemaak en goed van die noot af die volgende gesing: “Happy birthday… happy birthday… sorrow, misery and despair, people dying everywhere… happy birthday.”

Kyk as hulle dit vir jou gesing het, was jy wraggies gewild en geliefd.

En vir die manne wat verjaar het, het ons ook ‘n spesiale liedjie gehad.

Ek kan nie meer al die woorde onthou nie, maar dit het min of meer so gegaan:

“Ag man jy is ‘n hero. Jy dink jou pa was ou Nero. Van meisies weet jy net mooi zero. En jy lyk selfs soos Robert de Niro. Jy doen alles die beste. Jy’s die slimste in hierdie geweste. Die mooste van ooste tot weste en so sterk soos ‘n leeu… ‘n gekwesde!”

Ook net as ons rêrig baie van hom gehou het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button