ArcelorMittal-hoof vermoor!
VANDERBIJLPARK. - Dit is met hartseer dat Vaalweekblad berig oor die moord gisteraand op mnr. Peet Snyders, (hoof van ArcelorMittal Suid-Afrika Coke-aanleg).

ArcelorMittal het in ‘n mediaverklaring sy innige simpatie aan Snyders se familie oorgedra en gesê dat daar nog baie onduidelikheid is rakende die moord, maar dat die maatskappy sy volle samewerking sal gee om toe te sien dat die skuldiges aangekeer word en geregtigheid geskied. Snyders (47) word oorleef deur sy vrou en twee kinders.
Kobus Verster, Uitvoerende Bestuurder (Chief Executive Officer) van ArcelorMittal het in ‘n mediaverklaring gesê dat Snyders op pad huistoe was na werk, toe hy by die Delfos- en Hertz Boulevard-kruising dood geskiet is. Volgens Polisiewoordvoerder Brigadier Mathapelo Peters is daar tot dusver vasgestel dat vier mans met wit balaklavas oor hul gesigte, vanuit ‘n groen motor (registrasienommer onbekend), op Snyders losgebrand en hom noodlottig gewond het. Hy het op die toneel gesterf.
Daar word reeds onder verskeie mense bespiegel dat Snyders se dood verband hou met die die onlangse ongeluk by die plaaslike Mittal-werke waartydens drie werkers gesterf het. Dit kon egter nog glad nie bevestig word nie.
- Daar word versoek at enigiemand met inligting rakende die moord die SAPD se naaste polisiekantore sal kontak. Daar kan ook van die Crime Stop nommer 08600 10111 of die MySAPS toep gebruik gemaak word indien iemand anoniem wil bly.
