Brandweer onbereikbaar weens ELM se wanbetaling aan Telkom
VANDERBIJLPARK. - "Die brandskade aan ‘n huis in Jacobstraat, Vanderbijlpark, kon waarskynlik minder gewees het indien die brandweer betyds per telefoon bereik kon word om noodvoertuie na die toneel te stuur".
Dit is die woorde van Gerda Senekal, VF Plus-raadslid: Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, na ‘n huisbrand op 16 Maart. Telkom het aan die einde van Januarie sy dienste aan die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) gestaak weens wanbetaling, wat dus beteken die landlyne by die brandweerstasie is buite werking.

“Die VF Plus moes gistermiddag (16 Maart) laat ‘n brandweerman op sy privaat foon skakel en vra om noodvoertuie na die brandende huis te stuur,” sê Rdl. Senekal. Die party is deur ‘n buurman, wat ook ‘n VF Plus-ondersteuner is, van die brand verwittig.
“Die buurman het intussen, terwyl daar op hulp van die brandweer gewag is, met ‘n tuinslang probeer verhoed dat die brand verder versprei. Sy poging was van min waarde aangesien Rand Water agtien dae gelede die watertoevoer na die munisipaliteit met 40% verminder het,” sê Rdl. Senekal.
Die huiseienaar en bure moes verslae toekyk hoe verterende vlamme sy besittings vernietig. Die brandweer het wel met hul aankoms alles in hul vermoë gedoen het om die brand te blus.
“Die Emfuleni-munisipaliteit, wat gedeeltelik onder administrasie van die Gautengse wetgewer is, se dienslewering aan die gemeenskap verswak daagliks. Die VF Plus se kantoor in Vanderbijlpark ontvang daagliks sowat 100 telefoonoproepe van ongelukkige inwoners omdat hulle nie die munisipale kantore telefonies kan bereik nie. Daarbenewens stuur mense honderde Whatsapp- en SMS-boodskappe na raadslede se private selfone rakende diensleweringsprobleme,” sê Rdl. Senekal.
Sy het verder aangevoer dat dienslewering in Emfuleni tot stilstand gedwing is aangesien diensverskaffers maande gelede betaal is. Die geld wat beskikbaar is, word glo aangewend om slaggate in paaie te herstel.
“Inwoners betaal ten duurste vir dienste wat hulle nie ontvang nie en is nie verantwoordelik vir die wanbestuur van die munisipaliteit nie. Die VF Plus sal nie sy druk op die munisipaliteit verslap om sy grondwetlike plig na te kom deur ʼn behoorlike diens aan inwoners te verskaf nie,” het Rdl. Senekal afgesluit.


