Oranjeville – die stilte na die storm
Daar is weer vrede in Oranjeville na drie dae se oproer en protesaksie.
ORANJEVILLE. – Die protesaksie wat Oranjeville vir drie dae ontwrig het, is iets van die verlede. Op Donderdag, 18 Maart 2021 kon werkers weer vir die eerste keer hierdie week sonder belemmering werk toe gaan.
Geen paaie word meer afgesper nie en alle besighede is oop. “Alles is terug na normaal. Die polisie het baie gehelp,” het een van die inwoners in ‘n telefoniese onderhoud gesê.
‘n Ander besigheidseienaar het laat weet dat alles weer rustig is. Dit volg nadat die burgemeester van Metsimaholo, Me. Sylvia Lindiwe Tshongwe blykbaar gistermiddag die mense toegespreek het.
Hopelik sal daar nou ook aandag aan die water probleme op die dorp gegee word. Die protesaksie was as gevolg van die vuil water toevoer in die dorp.
Oranjeville en Metsimaholo het al geruime tyd water probleme. Inwoners sê die dorp se waterdruk is uitermatig swak en hulle is kort-kort sonder water deur die dag.
Is daar wel water, is dit bruin en ondrinkbaar. Van die inwoners ry weekliks deur Vanderbijlpark toe om drinkwater aan te koop.
Almal is dit eens dat hulle net verskonings, maar geen oplossings ontvang nie. “Dis so ironies, daar lê die Vaaldam vol water, maar ons het geen water nie,” het ‘n inwoner moedeloos gesê.
