Local newsNewsNews

Rus sag Mnr. Italiano

VANDERBIJLPARK. - Nog ‘n legende van die Vaaldriehoek is oorlede. Franco de Nuzzo (59), bekende restaurateur, het Sondagmiddag, 14 Maart ‘n beroerte gehad.

De Nuzzo wat vroeër die Covid-19-virussiekte gehad het, het herstel, maar oor onderliggende probleme gekla. Hy is Woensdag, 10 Maart in die Midvaal Privaathospitaal opgeneem omdat hy nie lekker gevoel het nie.

Sy toestand het die volgende paar dae versleg en hy is Sondagmiddag weens ‘n bloedklont op sy brein en sy longe wat platgeval het, dood. De Nuzzo was die eienaar van Black Forest Grill (op die hoek van Frikkie Meyer-boulevard en Sullivanstraat), ‘n steakhouse en pizzeria met ‘n Italiaanse geur.

Wyle Franco de Nuzzo, gewilde plaaslike restaurateur. Foto: Verskaf

Hy het oor die jare verskeie Italiaanse restaurante in Vereeniging en Vanderbijlpark besit. Talle Vaaldriehoekers sal die Da Romano restaurante in Vereeniging se middestad en later by die Riverfront onthou. Franco was meer onlangs ook die eienaar van Franco’s Little Italy, ‘n restaurant wat hy sowat ses jaar gelede verkoop het.

Hy besit die Black Forest Grill reeds vir die afgelope 13 jaar Franco is in Ugento in die suide van Italië gebore en het saam met sy familie na Suid-Afrika geïmmigreer. Hulle het vir ‘n ruk in Welkom in die Vrystaat gewoon, waarna hy hom in die Vaaldriehoek gevestig het en ‘n naam vir hom as restaurateur gemaak het.

Sy restaurante – veral die Da Romano restaurante – was baie gewild onder inwoners en was oor naweke vol. Franco het ten tye van sy dood sowat 20 mense by sy restaurant in diens gehad wat kombuispersoneel, kelners en restaurantbestuurders insluit.

Die restaurant sal voortbestaan met Franco se dogter, Natasha, wat dit oorneem. Volgens Natasha is die strewe om haar pa se nalatenskap te eer deur klante met die beste kos en die vriendelike diens waaraan hulle gewoond is, te bedien.

Natasha is besig om die naam van die restaurant na “Franco’s” te verander, ter ere aan haar pa. Huldeblyke het die naweek vir De Nuzzo op sosiale media ingestroom met talle inwoners wat meen hy was “’n legende” van die Vaaldriehoek.

Die Vereenigingse sakeman, Gary Immelman, wat Franco al sedert die middel 1960’s ken, het Franco op sy Facebookblad as ‘n “ware vriend” beskryf en sy meegevoel teenoor die familie uitgespreek. Familie beskryf Franco as ’n “mens-mens” met ‘n “charismatiese en gasvrye persoonlikheid”.

“Hy was lief daarvoor om mense te onthaal en het sy familie met sy hele hart liefgehad,” vertel sy dogter. Franco is jare gelede geskei en was ten tye van sy dood enkellopend. Hy word deur sy kinders, Nicholas en Natasha, skoonseun Michael en kleinkind Levi, oorleef. Hy het ook ‘n broer, Gianni. Reëlings vir Franco se begrafnis was teen druktyd nog nie gefinaliseer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button