Local newsNewsSponsored

Telkom sny munisipaliteit se fone af weens wanbetaling

Amptenare van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is sedert Januarie vanjaar genoodsaak om amptelike oproepe van hul private fone af te maak

Amptenare van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging) is sedert Januarie vanjaar genoodsaak om amptelike oproepe van hul private fone af te maak nadat Telkom sy diens aan die munisipaliteit gestaak het weens wanbetaling.

Volgens Emfuleni-raadslid Gerda Senekal van die Vryheidsfront Plus, het die munisipaliteit se agterstallige skuld aan Telkom sedert einde Januarie tot sowat R1 miljoen aangegroei.Sy sê die munisipaliteit se onvermoë om sy telefoonstelsel suksesvol te bestuur, het reeds in 2017 begin met die installering van ‘n stelsel deur die Brilliant Telecommunications-maatskappy, ‘n Swartbemagtigingsonderneming.

“Die ouditeur-generaal (OG) het in sy 2017/18-verslag ‘n bedrag van R862 miljoen as onreëlmatige besteding aangedui waarvan die telefoonstelsel deel was. Die kontrak met Brilliant Telecommunications is in 2019 gekanselleer en die munisipaliteit het besluit om eerder van Telkom gebruik te maak,” sê raadslid Senekal.

“Ondanks die feit dat die kontrak met Brilliant Telecommunications gestaak is en die maatskappy tot op hede nog nie sy stelsel kom verwyder het nie, betaal Emfuleni die maatskappy steeds R290 000 per maand vir die ‘gebruik’ van die stelsel. Telkom se maandelikse rekening aan die munisipaliteit beloop sowat R244 000,” sê sy.

“Die VF Plus het verlede Donderdag tydens ‘n vergadering met die finansiële bestuurder, Andile Dyakala, daarop aangedring dat die maandelikse fooi aan Brilliant Telecommunications dadelik gestaak moet word en dat dié maatskappy skriftelik versoek moet word om sy stelsel te verwyder. Die geld kan aangewend word om Telkom te betaal.”

Raadslid Senekal sê dit is onaanvaarbaar dat inwoners weens die onderbroke foondiens nie hul diensleweringsprobleme kan aanmeld en amptenare nie hul werk behoorlik kan doen nie.Inwoners met klagtes oor hul elektrisiteitverskaffing, water en riool, kan hul probleme tans glad nie by die munisipaliteit aanmeld nie. Hulle kan dit slegs doen deur hul raadslede. Raadslid Senekal sê haar kantoor kry daagliks tussen 30 en 40 oproepe om klagtes aan te meld.

“Verlede maand het ek in totaal 1 243 oproepe na my kantoor gehad. Ek praat nie eers van my persoonlike foon nie. Dit gaan rof en die feit dat die administrateurs glad nie eers teenwoordig is by die munisipaliteit nie, maak dinge nog moeiliker,” sê sy. Die VF Plus dring daarop aan dat alle bande met Brilliant Telecommunications verbreek word en die agterstallige skuld aan Telkom betaal moet word sodat die publiek minstens weer telefoontoegang tot die munisipaliteit kan hê.

*******************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button