Ek is ook nie ‘n towenaar wat al julle werk vir julle gaan doen nie.
“Nog minder is ek ’n pessimis wat nie kan glo dat ons met my hande, met jou hande, met sy hande en haar hande die broodnodige verskil sal kan maak wat ons streek en sy mense tot voordeel sal strek nie.”
Met hierdie woorde het die Sedibeng-distriksmunisipaliteit se intredende burgemeester rdl. Lerato Maloka, raadslede en die publiek Vrydag toegespreek nadat sy as burgemeester ingehuldig is.

Maloka, voormalige burgemeester van die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit in Heidelberg, is Vrydag, 12 Maart as die nuwe burgemeester van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit verkies en ingesweer.
Altesaam 26 van die 42 raadslede wat tydens die gewone raadsvergadering van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit by die Vereeniging-stadsaal gestem het, het vir Maloka gestem, teenoor die 16 raadslede wat vir die DA se rdl. Daddy Mollo gestem het.
Een raadslid was tydens die stemmery afwesig en ses raadslede het hulle van die stemproses weerhou.
Maloka sê sy glo dat die Sedibeng-distriksmunisipaliteit moet doen wat distriksmunisipaliteite die beste doen en dit is om waarde op plaaslike vlak toe te voeg sodat dienslewering kan geskied.
Sy het tydens haar toespraak gesê die distriksmunisipaliteit bestaan vir die doel om ekonomiese groei vir die streek te laat geskied deur die Vaal Spesiale Ekonomiese Sone, wat die aspirasies van plaaslike munisipaliteite dra.
Maloka het tydens die nuwe vergadering ook haar burgemeesterskomitee aangewys:
* Rdl. Petrus Tsotetsi (burgemeesterskomiteelid vir finansies)
* Rdl. Gretta Hlongwane (burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling en toerisme.
* Rdl. Simon Maphalla (burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste).
* Rdl. Lulama Gamede (burgemeesterskomiteelid vir omgewingsake en skoonenergie)
* Rdl. Mmakgomo Raikane (burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en sosiale dienste
* Rdl. Yusuf Mahommed (burgemeesterskomiteelid vir sport, ontspanning, kuns, kultuur en publieke veiligheid)
* Rdl. Madisebo Khomoeasera (burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, ontwikkeling en beplanning)
* Rdl. James Dlangamandla (burgemeesterskomiteelid vir vervoer en infrastruktuur)
Maloka het plaaslike besighede gevra om met die burgemeesterskantoor te skakel sodat Vereeniging na sy voormalige glorie herstel kan word.
* Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit was tot en met Maloka se aanstelling sedert Januarie sonder burgemeester toe die voormalige burgemeester, rdl. Busisiwe Modisakeng weens Covid-19-verwante komplikasies oorlede is.
Oor Lerato Maloka
Rdl. Maloka het haar politieke tande in die middel 1990’s gesny en was as hoërskoolleerling aktief by die ANC se jeugliga betrokke, voordat sy na die ANC aanbeweeg het.
Sy het die ANC in verskeie rolle (en in verskillende strukture) gedien en was tussen 2012 en 2015 die adjunk-sekretaris van die ANC in die Sedibeng-streek.
Sy was ook tussen 2010 en 2013 ’n lid van die ANC-vroueliga se uitvoerende streekskomitee en dien tans op die ANC in Gauteng se provinsiale uitvoerende raad.
Sy was vanaf 2011 tot 2016 die burgemeester van die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit in Heidelberg tot sy verlede week bedank het om die pos as burgemeester van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit op te neem.
