Ma se pleidooi: ‘Help my seun, asseblief!’
Dit het as skouerpyn begin. Twee jaar later en hy kan nie meer sy regterarm gebruik nie. Nou versprei dit ook na sy linkerskouer. Hulp gevra.
VANDERBIJLPARK – Mev. Santa du Preez is baie bekommerd oor haar seun, Riaan Marais (40), se gesondheid en algemene welsyn. Riaan het sowat twee jaar gelede begin kla oor pyn in sy regterskouer.
Aan die begin was die pyn beheerbaar en kon hy normaal voortgaan met sy lewe en werk. In die verloop van die volgende twee jaar het die pyn egter vererger en is sy armspiere in so ’n mate aangetas dat hy nie meer sy eie tande kan borsel nie.
Hy kan nie meer werk nie en sukkel met basiese dinge soos om te eet en homself aan te trek. Die pyn is konstant. Die ergste is dat die pyn na sy linkerskouer versprei het.
Presies wat die oorsaak van die pyn en gepaardgaande spierverlies is, is nie seker nie. Riaan het nie ’n mediese fonds nie. Santa sê hulle wil hom so graag help, maar kan nie finansiële bystand bied nie, aangesien sy en haar man self ernstige gesondheidsprobleme het.
’n Biokinetikus het aanbeveel dat Riaan dringend ’n dokter moet gaan sien sodat onder meer ’n MRIskandering gedoen kan word.
“Ek het al een van die privaat hospitale gekontak. ’n MRI-skandering kan enigiets vanaf R12 000 kos en dit sluit nie die doktersbesoek en verwysing in nie,” vertel Santa moedeloos.
Die pyn het Riaan sonder ’n inkomste gelaat, wat beteken dat hy nie meer ’n selfoon of vervoer het nie en van kospakkies leef. Sy geestelike gesondheid ly ook daaronder.
Daar is ’n BackaBuddy-rekening begin in ’n poging om genoeg fondse in te samel sodat hy ten minste ’n dokter kan gaan sien en die nodige toetse kan ondergaan. “Ek vra mooi dat mense asseblief sal help,” pleit Santa.
