Verwaarloosde substasies is tikkende tydbom vir bejaardes
“Sowat 150 bejaarde inwoners word in Siësta se hoësorgafdeling versorg, direk langs een van die substasies wat nie deur Emfuleni gediens word nie."

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Groot kommer heers in die bestuur van die Vanderbijlparkse Vereniging vir Bejaardes dat die substasies op die terrein van Herfsoord weens swak onderhoud kan ontplof. Verskeie substasies in die Vaaldriehoek het reeds weens swak onderhoud ontplof, wat katastrofiese gevolge vir bejaarde inwoners op die terrein kan inhou as dit ook hier sou gebeur.
Mev. Marietjie Collins, hoofbestuurder van die Vanderbijlparkse Vereniging vir Bejaardes, waarsku al sedert 2015 dat hier ‘n ramp wag om plaas te vind. Sy het intussen reeds 20 briewe aan die munisipale bestuurder van Emfuleni gestuur om dringende onderhoud aan die substasies in Pasteur-boulevard te versoek – sonder enige positiewe terugvoering.
“Sowat 150 bejaarde inwoners word in Siësta se hoësorgafdeling versorg, direk langs een van die substasies wat nie deur Emfuleni gediens word nie. Die moontlikheid van ‘n ontploffing en brand word al groter en die bejaardes se lewens is op die spel,” waarsku sy.
In haar briewe aan die munisipale bestuurder wys sy daarop dat Emfuleni verantwoordelikheid sal moet aanvaar as daar ‘n ontploffing is wat lewensverlies, beserings of skade aan eiendom veroorsaak. Tot dusver het die munisipaliteit nie op haar briewe en waarskuwings gereageer nie.Sy sê drie van die substasies op die terrein se dakke lek erg as dit reën, en met elke reënbui vrees die bestuur dat dit ‘n ontploffing gaan veroorsaak.
“Tot dusver het ons die dakke van die Essenhout- en Sekelbosstasies op eie koste herstel. Die hoofstasie reg langs ons Siësta-versorgingseenheid is in die swakste toestand. Volgens kwotasies wat ons gekry het, sal dit ongeveer R30 000 kos om die dak te herstel of te herseël. Die toerusting binne-in is reeds verroes as gevolg van die voortdurende lekkasies.”
Sy sê voorts die transformator-olie van al drie die groot substasies op die terrein is sedert 1992 nie weer vervang nie.
“Ons het gedurende 2015 en weer in 2019 ‘n gerespekteerde onderneming hieroor geraadpleeg. Wetgewing oor die instandhouding en vervanging van transformator-olie in substasies is reeds in die Staatskoerant gepubliseer. Dit is die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se verantwoordelikheid om te hou by wetgewing soos bepaal deur die Departement van Omgewingsbestuur. Geen onderhoud is egter die afgelope 15 jaar of langer gedoen nie. Daar is ook hoegenaamd geen bewys dat die brandbestrydingstoerusting in die substasies getoets is soos dit hoort nie,” sê mev. Collins.
In haar mees onlangse brief aan Emfuleni verlede week, versoek sy die munisipaliteit om dié uiters gevaarlike situasie dringend te ondersoek.
“As ons nie binne sewe dae ‘n reaksie kry nie, het ons geen ander uitweg as om die aangeleentheid by die Gautengse Departement van Omgewingsake te rapporteer nie,” sê sy.
Die Vereniging vir Bejaardes het intussen ook die hulp van die plaaslike sakesektor ingeroep in die hoop dat hulle ekstra druk op die munisipaliteit kan uitoefen. Mnr. Klippies Kritzinger, uitvoerende bestuurshoof van die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC), sê dit is ontstellend dat Emfuleni glad nie reageer op versoeke om aandag aan die substasies in Herfsoord te gee nie want dit behoort ‘n prioriteitsaak te wees.
“Emfuleni is laks en maak hom skuldig aan growwe nalatigheid. Ons het al van die sakekamer se kant af probeer help, maar die absurditeit is dat ons nie aan munisipale infrastruktuur mag werk nie. Dit is vir my krities belangrik dat ons saam met Emfuleni moet gaan sit en kyk hoe ons kan saamwerk. As die munisipaliteit nie wakker word nie, gaan ons nou moet begin dagvaar,” sê Kritzinger.
* Emfuleni se woordvoerder kon nie vir kommentaar bereik word nie omdat Telkom die munisipaliteit se telefoondiens weens wanbetaling opgeskort het.
ONDER:
‘N FOTO VAN ‘N SUBSTASIE IN CURIE-BOULEVARD, VANDERBIJLPARK, WAT OP 12 MAART 2019 ONTPLOF HET WEENS ‘N GEBREK AAN ONDERHOUD. INDIEN EEN VAN DIE SUBSTASIES OP HERSOORD SE TERREIN IN PASTEUR-BOULEVARD ONTPLOF, KAN DIT NOODLOTTIGE GEVOLGE VIR BAIE BEJAARDES INHOU.

*********************************************************************************************
