NewsNews

Onbaatsugtige diens aan Vanderbijl se haweloses

VANDERBIJLPARK. – Vir Karel en Nita van der Merwe is diensbaarheid in geloof baie belangrik.

Albei is in die stadium werkloos, maar dit stuit hul nie om weekliks hawelose mense te help nie.
 
 
Die twee het in Mei 2020 Curbside Blessings begin nadat Corrie en Sonja van Staden geroepe gevoel het om hul bediening, Showers of Blessings, na Drie Riviere te skuif.
 
Nita onthou hoe hul die eerste keer betrokke geraak het.
 
“Ons was die aand by FNB in die dorp toe Karel die mense met die groot TV-skerm gesien het. Hy wou gaan kyk wat daar aangaan. Ons was gou deel van die bedieningspan. Ek het gevoel ek word in die diepkant ingegooi, maar Karel se geloof hou my sterk. Hy is my steunpilaar.”
 
Die Van der Merwes en hul span, bestaande uit Danie en Diana Fourie, Henk en Tanja Roberts, Wesley, Jan en Koekie, Leon en David en Nita Saunders doen elke Woensdagaand evangelisasie in Vanderbijlpark se middedorp. Hulle gee elke week vir die haweloses ‘n bord kos en probeer om gereeld klere en sakkies met onder meer seep en tandepasta uit te deel.
Karel en Nita van der Merwe van Curbside Blessings.Foto: Facebook
“Op die oomblik het ons ‘n groot tekort aan komberse en skoene vir mans,” sê Karel. “As iemand staal kan skenk, sal ons dit ook waardeer. Ons wil graag ‘n waentjie met ‘n stort vir die mense bou.”
 
Hy bedank graag hul borge, J&B Auto Services, Genq Generators, Koos & Mike Used Cars, Auto Works Vaal en LV Graphic Designers.
Nita sê hul vriende en hul spanlede se vriende en familie help ook gereeld. “Party Woensdae om 12:00 het ek nog nie ‘n enkele stukkie kos om uit te deel nie, maar die Here voorsien nog elke week,” sê Nita dankbaar.
Nita en Karel van der Merwe tydens Curbside Blessings se Kersfeesfunksie in 2020Foto: Verskaf
 
Die egpaar verduur baie kritiek omdat hulle onder die haweloses werk. “Dis nie lekker om uitgeskel te word nie, maar ons doen soos wat die Here ons lei. Die nood is groot. Ons sit saam met die mense op die sypaadjie. Ons is buite dissipels van die Here,” sê Nita. Hulle bedien elke week sowat 30 tot 40 haweloses, maar Nita sê daar is ook mense wat vanuit hul huise kom om saam te luister.
“Ons sal graag wil uitbrei en Vrydaeaande ook bymekaarkom vir praise en worship,” verduidelik Nita.
 
Indien mense betrokke wil raak, kan hul op ‘n Woensdagaand met Karel of Nita gaan gesels wanneer hulle by Absa bymekaarkom.
“Ons is gewoonlik so teen 17:30 daar om alles voor te berei en dan begin ons om 19:00,” sê Karel.
“Mense moet net hul maskers onthou. Ons maak seker dat almal maskers dra en sosiale afstand hou.”
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button