Die jong treindrywer het gereeld in die verbygaan vanuit ‘n stoomlokomotief vir die spoorweg-personeelklerk vir wie hy ogies gehad het, geloer.
Sydney Aspeling (77) was die lokomotiefdrywer en sy vrou, Muriel (78), ‘n spoorweg-personeelklerk op Oudtshoorn se stasie toe hulle ontmoet het.
As aflosdrywer het Sydney gereeld na die kantoor waar Muriel gewerk het gegaan om sy aflosonkoste te gaan verhaal. Dit was ook ‘n gerieflike verskoning om Muriel te kon sien.
Toe Sydney uiteindelik sy droomvrou uitvra, was dit die begin van ‘n liefdesreis wat oor meer as vyf dekades sou strek. Die paartjie is op 14 Maart 1970 in die Oudtshoorn Moedergemeente getroud en vier vanjaar 51 jaar van getroude lewe.


Die egpaar het vanjaar hul huweliksherdenking saam met hul kinders en kleinkinders gevier. Weens die harde grendelstaat, was dit verlede jaar moeilik om die huweliksherdenking op ‘n gepaste wyse te vier.
Sydney en Muriel kon darem verlede jaar hul 50ste huweliksherdenking saam met kinders by ‘n restaurant vier. Uit Sydney en Muriel se huwelik is ‘n dogter, Maralese, ‘n seun Sydney en later twee kleinkinders, Marco en Remco, gebore. Hulle woon vandag in Vereeniging, naby die familie.

Muriel het reeds afgetree. Sydney het na 35 jaar diens op die spoorweë ook afgetree. Hy het intussen sy eie besigheid begin en werk nog volstoom.
Gedurende die duur van sy loopbaan was Sydney soms vir lang tye weg van die huis af en elke keer wat hy teruggekeer het, was hy en sy vrou liewer vir mekaar.
Muriel glo dat liefde, eerlikheid en respek teenoor mekaar belangrik is vir ‘n gesonde huwelik en dat ‘n mens nooit kwaad moet gaan slaap nie.
Sydney glo dat ‘n man sy vrou en kinders moet beskerm en voluit vir sy gesin moet lewe. Godsdiens speel ook ‘n belangrike rol in hul lewens.
Die twee se persoonlikhede vul mekaar aan. Sydney was al die jare baie streng, gedissiplineerd en hardwerkend.
Hy het ook ‘n ligter kant en was nog altyd vol grappies.
Muriel is netjies, eerlik, hardwerkend en behulpsaam. As jy by hulle gaan kuier, sal daar altyd ‘n bederfie wees.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

