‘Zak se kruising’ eis weer toenemend lewens
“Die grootste gevaar is die swaarvoertuie wat van Vereeniging se kant af kom, wat vooraf hul spoed verhoog om die opdraande in Parys se rigting baas te raak”
SASOLBURG. – Een van die Vaaldriehoek se opspraakwekkendste voertuigongelukke van die afgelope dekade het op 30 Maart 2012 die lewe van die geliefde sanger en storieverteller, Zak van Niekerk, by die Wonderfonteinkruising geëis.
Dit was maar een van menige tragedies wat deur die jare afgespeel het by dié gevaarpunt in die R59-snelweg, waar dit met DF Malanweg en die Wonderfonteinpad in Sasolburg kruis. Na Zak se noodlottige ongeluk het die publiek meer as ooit tevore gepleit dat dié ongeluksone beveilig moes word.Sasol, in samewerking met die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit en die Vrystaatse Provinsiale Regering, het toe in 2012 begin met die opgradering van die kruising, wat in 2014 voltooi is.
Vaalweekblad het destyds vasgestel dat daar tussen 2008 en 2014 nie minder nie as 108 voertuie in 55 ongelukke by dié kruising betrokke was. In dié ongelukke het 56 mense beserings opgedoen en 18 gesterf.

Die verandering aan die kruising het dit makliker gemaak vir voertuigbestuurders wat uit DF Malanweg op die R59 wil draai, om aankomende verkeer betyds te sien. ‘n Versperringseiland is ook tussen die uitgangsbaan en die R59 gebou om stilstaande verkeer in DF Malan te beskerm teen aankomende trokke en voertuie op die R59. Hoewel minder botsings aangeteken is in die eerste paar jaar nadat die pad beveilig is, blyk dit dat daar tans weer ‘n groot toename is met minstens een ernstige of noodlottige ongeluk per maand.

Mnr. David Brooks, ‘n chemiese ingenieur van Wonderfontein wat die pad gereeld ry, sê die kruising is vanaf die Wonderfonteinkant effens laer as die res van die kruising.
“Die bossies en gras rondom die kruising is tans so hoog dat mens die aankomende verkeer nie behoorlik kan sien nie. Weens die baie barriers op die pad kan ‘n mens ook nie maklik bepaal in watter baan die aankomende verkeer is nie. Nog ‘n probleem is dat motoriste wat van die sykante af inkom en die pad nie goed ken nie, onseker is in watter baan hulle moet indraai,” sê hy. Hy meen egter die grootste gevaar is die swaarvoertuie wat van Vereeniging se kant af kom, wat vooraf hul spoed verhoog om die opdraande in Parys se rigting baas te raak.
“Hoewel dit ‘n 60 km/h-sone is, is dit nie ongewoon om trokke hier te sien jaag nie. Ek skat sommige ry teen 120 km/h om spoed op te bou vir die opdraande. In byna 80% van die afgelope maande se ernstigste ongelukke was daar swaarvoertuie betrokke. Ek sidder as ek dink dat my vrou en kinders in so ‘n ongeluk betrokke kan raak,” sê hy.
Hy stel voor dat daar weer na verskeie modelle gekyk moet word om die probleem op te los, soos om dit na ‘n vierrigtingstop of sirkel te verander, of ‘n oorbrug te bou. Mnr. Jacques Barnard, raadslid in die Metsimaholo-stadsraad en voorsitter van die DA-koukus hier, sê die situasie is inderdaad baie kommerwekkend.
“Mense sterf steeds op ‘n gereelde basis by die kruising. Die DA in Metsimaholo het die munisipaliteit reeds gevra om opnuut aandag aan die saak te gee. Die probleem is dat dit ‘n provinsiale pad is waar die plaaslike munisipaliteit geen mandaat het nie – nie eers om gras te mag sny nie. Ek het dit egter reeds met die plaaslike ANC-beheerde stadsraad opgeneem, sowel as met die DA se verteenwoordiger vir paaie en vervoer in die Vrystaatse Provinsiale Wetgewer, me. Karabo Khakhau, wat dit tydens die volgende sitting verder sal bespreek.”
Barnard sê hy is ook bekommerd oor die toename in mense wat by die kruising bedel omdat dit ‘n reeds gevaarlike verkeersituasie nog gevaarliker maak. Metsimaholo se verkeersafdeling het op sy versoek reeds by verskeie geleenthede bedelaars by die kruising gaan verwyder.
************************************************************************************************************
