Local newsNewsSponsored

Maak seker dat jy jou reg uitoefen om te stem – Midvaal Hoofsweep Rapport 12

Die naderende plaaslike verkiesings het alle politieke partye in rep en roer

Maak seker dat jy jou reg uitoefen om te stem – Midvaal Hoofsweep Rapport 12

Die naderende plaaslike verkiesings het alle politieke partye in rep en roer.   

Deur Raadsheer Phil C Pretorius, Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit Die naderende plaaslike verkiesings het alle politieke partye in rep en roer. Dit is reeds uitgestel na Oktober 2021 en daar is gerugte dat die regering oorweeg om dit selfs verder uit te stel na 2022. Volgens wet moet dit egter in 2021 plaasvind aangesien dit binne ʼn sekere tydperk vanaf die laaste plaaslike verkiesing moet wees. Om dus die verkiesing nog langer uit te stel sal ʼn aanpassing in die Nasionale Konstitusie benodig, wat baie moeilik en dus ook baie onwaarskynlik is.

Verkiesings in Suid-Afrika is in twee siklusse verdeel: Nasionaal & Provinsiaal vs. Distrik en Plaaslik (Munisipaal). Elk het ʼn vyf jaar termyn wat ongesinkroniseerd hardloop. Dit beteken dat die Nasionale verkiesing in 2019 weer in 2024 sal plaasvind terwyl die Plaaslike verkiesing van 2021 dan weer in 2026 op die kaarte is.

Daar is egter voorstelle dat die twee eerder gesinkroniseer moet word wat beteken dat ons slegs eenkeer elke vyf jaar vir Nasionaal, Provinsiaal en Munisipaal sal stem. Aan die eenkant is dit dalk wys omrede dit baie sal bespaar op mannekrag en onkostes. Aan die anderkant is dit dalk nie ʼn goeie idee om die Nasionale-, Provinsiale- en Plaaslike regerings almal gelyktydig te vervang nie. Al bly ʼn sekere party in beheer is daar gewoonlik ʼn verandering in leierskap en publieke verteenwoordigers, wat die kontinuïteit van al drie vlakke van regering dan gelyktydig in risiko plaas.

Die Nasionale verkiesing behels die stem vir ʼn regerende party en President terwyl die Provinsiale stembrief die Premier en Provinsiale regering bepaal. Die verkose publieke verteenwoordigers word hier onderskeidelik verkies as Lid van die Parlement (LP of MP in Engels) en Lid van die Provinsiale regering (LPR of MPL in Engels). Die Plaaslike verkiesing stem vir die distrik en die plaaslike munisipaliteit.

Die distrik, in ons geval, beslaan Lesedi (Heidelberg), Midvaal en Emfuleni (Vereeniging en Vanderbijlpark) wat bekend staan as die Sedibeng Distriksmunisipaliteit. Hierdie munisipaliteite stem dan vir die wyksraadslede en Proporsionele Verteenwoordigende Raadslede (PRs) om saam die Munisipale Raad te vorm. Hierdie aantal setels word bepaal volgens die aantal inwoners in die munisipaliteit en in Midvaal is dit tans ʼn totaal van 29 (15 wyke en 14 PRs). Jou stem is jou reg en al is ʼn “wegblystem” ʼn vorm van protes, word jou stem dan indirek ʼn voordeel vir die sterkste party.

Dit maak dus sin om eerder vir die party te stem wat jou die meeste aanstaan (niemand is perfek nie) om daardeur te verseker dat jy ʼn invloed het in die bestuur van jou munisipaliteit. Daar is talle gevalle waar een of twee stemme die raadslid en dus ook die regeer van die munisipaliteit bepaal het.

Dit is hoekom regerings se konstitusies voorsiening maak vir die opskiet van ʼn muntstuk of selfs ʼn kaartspel om die finale wenner te bepaal wanneer daar ʼn gelyke uitslag is. Maak seker dat jy jou reg uitoefen en stem vir jou kandidaat.

Trotse Midvaal Groete

Web: www.midvaal.gov.za Facebook:

Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network Tel: 0861 643 8225 MyMidvaal App    

   

************************************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button