Hoofsweep Rapport 15: Nog nuus uit die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Die Midvaal Munisipale Raad vergader sowat tien maal per jaar om die items van die munisipaliteit goed te keur en ander sake te behartig
Deur Raadsheer Phil C. Pretorius
Die Midvaal Munisipale Raad vergader sowat tien maal per jaar om die items van die munisipaliteit goed te keur en ander sake te behartig. By die 2021 vergaderings is die volgende items ter tafel gelê waarin inwoners sal belangstel: Op 25 Februarie 2021 het die raad verslae oor die bywoning van vergaderings en forums, die werksaamhede van die inwoners se Wykskomitees, sake wat na die oorsigkomitee (Municipal Public Accounts Committee – MPAC) verwys was en die aantal petisies wat ingedien is, genotuleer.
Item C2474/02/2021 was terugvoer vanaf die Nasionale Tesourie m.b.t. ‘n voorgestelde lening wat die munisipaliteit wil aangaan om noodsaaklike toerusting te bekom. Tesourie het bevestig dat hulle Midvaal se finansiële posisie nagegaan het en dat hulle bevind dat die informasiestaat, sertifisering van langtermynlening en die terugbetaalskedule alles in orde was. Midvaal is gekomplimenteer oor die feit dat hulle goeie navorsing gedoen het en dus die beste kostes vir die lening kon bewerkstellig.
Ook was hulle ingenome met die feit dat al die toerusting wat aangekoop gaan word, gebruik gaan word om dienste te lewer en dus weer inkomste genereer. Verder het hulle gemeld dat Midvaal se goeie finansiële posisie, reserwes en uitstekende likiditeit beteken dat Midvaal hulle korttermyn bates en laste baie goed bestuur en dus in ‘n voordelige posisie is.
Die Tesourie meld dat die minimale afname in die invorderings van belasting moontlik a.g.v. die Covid-19 virus en grendelstaat mag wees en dat dit versigtig bestuur moet word om nie die munisipaliteit se goeie finansiële bestuur negatief te beïnvloed nie. Dit gesê is hulle wel van die opinie dat die uitstekende skuld-tot-inkomste-verhouding (27% onder die norm) en die kapitale koste – tot-totale-bedryfsuitgawes (4% onder die norm) beteken dat die lening van R33 365 000 vir noodsaaklike toerusting ‘n goeie besluit is.
Inwoners sal binnekort die toerusting op die grond sien werk vir hulle belastingbydraes. Verder is ‘n aantal munisipale beleide hersien, finansiële- en ouditverslae voorgelê, ‘n dolomiet risikobestuur ooreenkoms met die Raad van Geowetenskap aangegaan, asook ‘n loodsprojek vir die herwinning van gryswater vir Midvaal gebruik. Maar meer hieroor volgende week.
Trotse Midvaal Groete.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App


*******************************************************************************************************************************

