Die nuwe kantoor op die hoek van Houtkopweg en Van Riebeeckstraat bied ‘n rustige en vreedsame atmosfeer wat bevorderlik is vir berading en assessering van kinderslagoffers van seksuele misdade.

Die sentrum se vorige hoofkantoor was in Joubertstraat in Vereeniging se middestad.
Volgens Lynette Steyn-Laurens, voorsitter van Alpha Trauma Centre se bestuursraad, is daar reeds gedurende die landwye staat van inperking besluit om na die nuwe hoofkantoor in Duncanville te skuif, selfs al was dit nog nie heeltemal voltooi nie.
Die feit dat misdadigers gedurende die landwye staat van inperking talle kere by die ou kantoor in die middestad ingebreek het, was volgens Braam van der Merwe, sentrumbestuurder, die laaste strooi.

“Dit was vir ons onmoontlik om daar (in die middestad) aan te bly,” vertel hy.
Alles binne die ou kantoorgebou is binne ‘n dag of twee na die nuwe kantoor oorgeskuif en personeel werk al sedert verlede jaar in die onvoltooide gebou.
Die bouwerk aan die gebou is nou heeltemal voltooi.
Donderdag het ‘n feestelike atmosfeer geheers toe Steyn-Laurens en Melinda Roodt (die voormalige voorsitter van Alpha Trauma Centre se bestuursraad) saam ‘n rooi lint geknip het om die amptelike opening van die nuwe kantoorgebou te vier.
Die gebou is ingerig vir trauma berading. Daar is ook ‘n assesseringskamer waar kinderslagoffers van verkragting geassesseer word.
Steyn-Laurens meen dat die atmosfeer by die nuwe gebou vreedsaam en verwelkomend is en dat dit waarde toevoeg tot die diens wat aan traumaslagoffers gebied word.
Die Alpha Trauma Centre reik ook op verskeie wyses uit na die plaaslike gemeenskap.

Die sentrum is ook by opheffingsprojekte, misdaadvoorkomingsveldtogte en die rehabilitasie van veroordeelde misdadigers betrokke.
Alpha Trauma Centre het 60 personeellede. Dit sluit vyf maatskaplike werkers, nege sosiale hulpwerkers, 40 permanente vrywilligers, twee kantoorbestuurders en ander personeel in.
Steyn-Laurens het in ‘n toespraak tydens die opening die sementmaatskappy PPC, wat sorgpakkies geskenk het, asook die ander instansies en individue wat die sentrum gehelp het, bedank vir hul hulp.
Volgens haar kan die sentrum nie sonder die hulp van die gemeenskap funksioneer nie.
Volgens Van der Merwe verwelkom die sentrum enige skenkings – of dit nou klanktoerusting, skryfbehoeftes, papier, drukkers, rekenaars, brandstof, of speelgoed is.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
