Bloedverbond: Lidmate help skep Vaal se eie Passiespel-video
Komende naweek word Paasfees wêreldwyd gevier - sekerlik een van die belangrikste godsdienstige vierings op enige Christen se kalender
MEYERTON. – Hierdie naweek word Paasfees wêreldwyd gevier – sekerlik een van die belangrikste godsdienstige vierings op enige Christen se kalender.
Dit herdenk Jesus Christus se opstandig uit die dood op die derde dag nadat hy aan die kruis gesterf het. Met Sy geboorte, dood en opstanding het Jesus die weg na die Hemel en ‘n Ewige Lewe voorberei vir die sondige mensdom, wat nooit op ons eie daar sou kon kom nie. Die voorvereiste is dat jy hom as jou Verlosser moet aanvaar.
Die eeue-oue verhaal van Jesus se ontsaglike lyding, dood en opstanding is na maande se harde werk en voorbereiding deur ‘n groep Vaaldriehoekse Christene in ‘n video vervat, wat hierdie naweek reeds te sien sal wees. Die projek, Bloedverbond</span>, is geloods deur ds. Francois van Zyl van die NG Gemeente Olyfdal in Meyerton.
Die projek is gebore uit ‘n passie om die boodskap van God uit te dra na ‘n verlore wêreld. Mnr. Ampie Viviers van Olyfdal het die eerste inisiatief na die tafel gebring. Volgens mev. Arina Greeff, die regisseuse, is dit sover sy weet, die grootste Passiespel wat nog ooit in die Vaaldriehoek aangepak is.
“Dit is voorwaar ‘n reuse-projek. Ds. Francois het my verlede jaar genader – ek het my eie draaiboek gebruik en die stuk begin afrig. Dit het as ‘n gewone opvoering begin en ons het drie maande geoefen. Toe kom Covid. Ons het in Januarie vanjaar weer begin oefen.
Toe word dit ‘n hele film… professioneel verfilm deur ‘n span filmtegnici,” vertel sy geesdriftig. P&C Studios en Francois Booyens Filmvervaardigers het die video geskep. Omdat Olyfdal ‘n klein gemeente is, was daar slegs 40 lidmate en mense van die omgewing wat kon deelneem. Sommige moes meer as een rol vertolk. Sommige van hulle was nog nooit in hul lewe op ‘n verhoog nie!
Die rol van Jesus word vertolk deur Andries Loots. Casper Muller is die hoofsoldaat en speel ook die rol van Johannes die Doper, asook een van die dissipels. Arina het ook vier van haar vriendinne van die NG Gemeente Drie Riviere-Oos ingespan. Die ouderdomme van die deelnemers wissel tussen 30 en 75 jaar. Geen kinders is betrek nie, omdat baie ure se harde werk in die voorbereiding moes ingaan en die akteurs soms tot laatnag moes oefen. Die professionele tegniese span het uit 10 mense bestaan. Die eindresultaat is ‘n aangrypende en baie professionele techno-drama wat hierdie naweek vertoon gaan word.
Belangstellendes kan dit Donderdagaand, 1 April om 19:30 in die NG Gemeente Olyfdal in Kookrus, Meyerton sien, waarna nagmaal bedien gaan word, of Vrydagoggend, 2 April om 8:00 in die NG Moedergemeente in Meyerton, waarna nagmaal ook bedien sal word. Op Sondag 4 April gaan die laaste deel van die video en gesprekke met sommige van die deelnemers om 06:00 tydens die Sonsopkomsdiens op die Fonniere-plaas vertoon word.
Foto: Tonele uit die video, Bloedverbond, wat deur die NG Gemeente Olyfdal met ‘n handjievol lidmate en inwoners van Kookrus, Meyerton, gemaak is. Mev. Arina Greeff het die draaiboek geskryf en die afrigting behartig, en sy lees ook ‘n paar van haar eie en haar ma se gedigte in die video voor.


Nog tonele uit die video:


**********************************************************************

