By die plek aangekom, sien ek dadelik interessante goete raak soos ‘n gourmet market.
Ek koop ‘n stukkie handgemaakte, jaaroue kaas teen die helfte van my maandelikse salaris (net ‘n effense oordrywing) en gaan soek vrede in die boekwinkel. Te gou lui my foon. Dis Ma. “Waar is jy? Ons het betaal.”
Op pad uit sien ek die winkel met ingevoerde teddiebere. Skaars binne toe word ek opgespoor. “Gaan ons koek eet?,” vra ek. “Te duur,” sê Ma, “my plante …”
“Waar is die plante?,” vra ek. “Daar voor,” sê Ma.
Twéé trollies vol. Ek loop solank tot by die Yankee.
“Waar is jou Ma?,” vra Pa vanwaar hy stoei om al die plante gelaai te kry.
Ek kyk. Ma het vasgesteek by die 40% plant uitverkoping. Ek stap nader. “Moet asseblief nie nog koop nie, daar is nie meer plek nie.”
Ma kyk my aan asof ek Grieks praat. “Daar is net die een plant. Ek ken dit nie. Jou Pa moet kom kyk.” Ek gaan klim solank in die kar. Minute later is die twee terug. Ma met ‘n enorme plant op haar skoot.
“Sit die plant langs Ma neer,” gee ek raad en skakel TomTom aan. “Nee,” sê Ma.
“Ry agteruit. Dan draai jy regs en dan links,” sê Pa. Ek maak of ek niks hoor nie.
“Nou draai jy weer links. En dan daar voor draai jy af op die N1.” Ugh! Pa en TomTom is in kompetisie om vir my bevele uit te deel.
Kyk ek in my truspieëltjie sien ek net blomme tot teen die dak. “Ek het nie geweet hulle sal blom nie,” kom dit van Ma.
“Kry solank die tolgeld,” sê Pa. “Ek het geld in my beursie en die tolhek is nog ver,” brom ek. Dowe ore. Die tolgeld word van agter af aangegee. Pa tel dit. “Dit is reg,” sê Ma gebelg. Ek trap die petrol bietjie dieper in.
Uiteindelik is ons by die huis. Na middagete is Ma by die deur uit. Ek hang, vadoek in die hand, oor die onderdeur. Sy is besig om al die plante na die bedding te dra. “Ek wil net kyk hoe ek dit moet plant. Sê vir jou Pa hy moet kom kyk.”
Ek tel ‘n bord op om af te droog. “Pa se dienste word buite benodig.” Hy hou aan met was. “Pa!” sê ek. “Daar is ‘n tyd vir alles,” grom hy en maak eers die skottelgoed klaar.
Ma loer oor die onderdeur. “Kom kyk my plante,” sê sy. Pa gaan staan buite. Ek hoor van kompos wat gekoop moet word. Ek luister nie. Ek het nuwe boeke om te lees en om 15:00 begin die rugby.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

