NationalNews

Na 21 jaar word Bles steeds met liefde onthou

Wie van Bles Bridges se derduisende aanhangers sal ooit die oggend van 25 Maart 2000 vergeet toe ons die skoknuus gekry het dat hy net voor middernag die vorige aand in ‘n motorongeluk gesterf het?

Wie van Bles Bridges se derduisende aanhangers sal ooit die oggend van 25 Maart 2000 vergeet toe ons die skoknuus gekry het dat hy net voor middernag die vorige aand in ‘n motorongeluk gesterf het?

Dit was kort voor Paasfees toe dié Vaaldriehoekse sanger sy lewe op die pad tussen Bloemhof en Wolmaransstad verloor het nadat sy Toyota Hilux van die pad af geloop het. Hy was 53 jaar oud. Sy vrou, Leonie, is ernstig beseer.

Dit is nou weer Paasfees en Bles se aanhangers – en natuurlik sy gesin – word dié tyd van die jaar onwillekeurig herinner aan daardie hartseer tyd, 21 jaar gelede.

Sy dogter, Sunette, wat nou in Amerika woon, het hom verlede week op 24 Maart, die herdenking van sy sterfdag, met dié Facebook-boodskap onthou: “My hartseer is mondig… dit lê nie meer my skoot vol of hou my snags wakker nie. Hartseer rem nie meer aan my rok of laat my ontroosbaar huil nie – dit skop en skreeu en skel nie meer nie. Hartseer woon nie meer onder my dak en in my nes nie en daag al hoe minder ongenooid hier op. My hartseer stap woordeloos saam met my deur die woud of sit rustig saam met my langs die vuur. Ons gesels saggies en deel die mooiste van ons onthou. Hartseer is ‘n stille teenwoordigheid op spesiale dae, ‘n gas wat ek makliker inlaat… My hartseer is nie meer ‘n orkaan wat verwoesting saai nie, maar sagte reën. My hartseer is 21 jaar oud vandag…”

Nog een van Suid-Afrika se lieflingsangers, Manie Jackson, wat soos Bles uit die Vaaldriehoek kom, het verlede week dié interessante feite oor sy rolmodel op Facebook gedeel: Bles was die eerste Afrikaanse sanger om in 1986 digitale opnames te maak en die eerste Afrikaanse sanger wie se musiek in 1987/88 op CD vrygestel is. Hy was ook die eerste Afrikaanse sanger wat met drie albums in ‘n ry trippel-platinumstatus vir verkope kon kry (150 000 eenhede per album). Hy was die eerste Afrikaanse sanger wat ligte musiek saam met ‘n simfonieorkes in die spoggerige Nico Malan-teater in Kaapstad gesing het. Die teater is voorheen uitsluitlik vir operas gebruik.Bles is drie jaar in ‘n ry deur die Suid-Afrikaanse publiek as gewildste sanger van die jaar aangewys – en ook as die aantreklikste man, waar hy teen ouens soos Mel Gibson, Bruce Willis en Kevin Kostner moes meeding. Hy is steeds die enigste sanger wie se vertonings in die Sun City Superbowl vyf keer in ‘n ry uitverkoop het, met 7 200 mense per vertoning. En die Superbowl het eintlik net plek vir 5 500! Een van sy liedjies, Nina, was ‘n reusetreffer in die Skandinawiese lande, en het 120 000 eenhede daar verkoop, sonder dat hulle ‘n woord kon verstaan wat hy sing!

Sy begrafnis op 13 April 2000 in Vanderbijlpark was glo die grootste vir ‘n witmens sedert H.F. Verwoerd se dood. Volgens lugfoto’s was daar ‘n geraamde 16 000 tot 20 000 mense wat sy begrafnis bygewoon het – 2 500 by die NG Gemeente Driehoek, en die res langs die paaie in die omgewing van die kerk en begraafplaas.

Sedert hy in 1984 bekend geword het, het al sy albums tot met sy dood goue, platinum-, trippel goue, dubbelplatinum- en trippelplatinum-status verwerf. Die hartseer van alles is dat hy in sy leeftyd, ondanks al sy sukses, nooit enige amptelike toekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf ontvang het nie. Hy is tot vandag toe nog die grootste Afrikaanse manlike plateverkoper in Suid-Afrika, met verkope van 3.2 miljoen albums.  

Wyle Bles Bridges.
Bles se begrafnisbrief, soos opgestel deur sy vrou, Leonie.

**********************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button