Ek loop op die maan (okay, dit was in die water)!
Opgedra aan almal op die pad van herstel na 'n voet, heup, knie of been operasie. Of anders gestel, die krukkelys-brigarde.
Ek het gister nes Neil Armstrong (ja ek weet dis Buzz Aldrin op die foto) van ouds gevoel. Of ek dink dis hoe hy moes gevoel het toe hy daar uit sy Apollo-maan-vuurpyl klim.
Versigtig getrap, voordat hy so bons-bons sy bekende, ‘n treetjie vir ‘n mens, maar ‘n reuse sprong vir die mensdom woorde geuiter het. (Neem tog in ag, dit was nou vrylik vertaal.)
Allegeval, daar staan ek toe gistermiddag. Klouend aan my krukke. Starend na die swembadwater. Ek het teen stap-vir-stap teen die breë trappe af besluit. Oom Neil en sy kollega, Buzz was dapperder as ek.
Die swembad is darem ook nie ‘n normale gat-in-die-grond tuin weergawe nie. Dié een is aangepas met baie trappe en stewige reëlings, spesiaal vir mense op die krukkelys.
Die juffie aan diens sê sy sal help. Sê ek nee sussie, met permissie gesê, lyk jy nou hopeloos te min en te dun om my te wil vang en is jy seker die reëling is stewig teen die muur vas?
Eindelaas gaan sit ek toe maar en skuif-skuif myself die water in. Dis toe wat ek soos Neil Armstrong op die maan voel. Veerlig en salig in die louwarm water.
Nadat ek die alfabet drie keer in hoofletters in die water met my voete probeer skryf het en gemaak het asof my enkel sirkelbewegings in die water kan maak, breek die groot oomblik aan.
Ek hou aan die reëling vas, lig my regtervoet op en sit hom hak eerste neer, rol beweging van my hak na my tone. Volg op met die linkervoet. It’s one small step, one giant leap!
Ek loop. Na 10 lange, lange weke. Loop ek weer, so bons-bons soos ou Oom Neil op die maan in die water. Maar ek loop.
Te gou, moet ek uitklim. Weer op die krukke balanseer. Liggies trap. Die enkel kan nog nie regtig gewig vat nie, maar gister het ek op die maan geloop, en vandag doen ek dit weer!
