Midvaal-egpaar vier 67 huweliksjare
MIDVAAL. - Na 67 jaar se wonderlike huweliksjare sê die Opperman-egpaar hul grootste rykdom is om tussen al die kinders te kan wees en nog goeie gesondheid te kan geniet, maar veral omdat hulle so lank vir mekaar gespaar is.
Koos en Vera Opperman het op 17 Maart hul huweliksherdenking gevier. Koos (86) is in Harrismith in die Vrystaat gebore en Vera (84) in Gouda in die Kaap.
Hulle paaie het as jongmense in Kemptonpark gekruis en hulle is later in Tulbagh in die Kaap in die eg verbind.
Koos het by Klipfontein Organiese Produkte (KOP) gewerk en Vera het as laboratorium-assistent gehelp om grond vir boere te ontleed.
Die egpaar het hulle in Kemptonpark gevestig, waar drie van hul kroos van vier gebore is.
Hulle het in 1966 na Meyerton verhuis nadat Koos ‘n pos by Maize Products, vandag Tongaat Hullett, aanvaar het. Daar het hy saam met die Amerikaners gehelp om die bedryf aan die gang te kry, vertel Koos. Vera het ‘n pos in die laboratorium by Vaal Potteries in Meyerton gekry.
Hulle onthou dat Meyerton destyds net stofstrate was, van ‘n snelweg was daar nog nie eens sprake nie. Hulle moes na Checkers in Drie Riviere ry om kruideniersware te koop.
Hulle vierde kind is hier in die Vaal, in die Vereeniging Kopanong-hospitaal gebore. Hulle is diep gewortel in die Vaal en woon tans op ‘n plaas net buite Meyerton, waar Koos sedert sy aftrede vir sy skoonseun werk.
“Klokslag elke dag om 05:00 is hy reeds buite en begin sy dag deur alles aan die gang te kry en oop te sluit.
“My ma Vera is net so aktief. Sy doen al die werk in die huis self. “Haar dag begin net so vroeg en sy ry nog elke dag in dorp toe,” vertel Magda Goslett, die egpaar se dogter.
Wat gesondheid aanbetref, kla Koos so af en toe van rugpyn en Vera se nek pla soms weens beskuit knie, maar andersins is hulle nog perdfris en gesond. Vir ontspanning geniet Vera dit om te stap – sy stap glo ‘n paar kilometers per week. Sy is ook lief vir lees en om kos te maak.
Koos wat op sy tyd ‘n kranige rugbyspeler was, sit gewoonlik Saterdae bankvas voor die TV om sport te kyk.
Die egpaar het vier kinders gehad, waarvan Chris, die oudste, op die jong ouderdom van 31 jaar in ‘n motorongeluk dood is. Oupa en ouma spog met nege kleinkinders en 14 agterkleinkinders.


