Peacehaven: Kragtoevoer dalk al teen volgende week herstel in sommige areas
Die goeie nuus is dat as alles goed gaan kragtoevoer al teen vroeg volgende week na gedeeltes van Peacehaven herstel kan word. Die slegte nuus is dat daar baie werk nodig is om verouderde infrastruktuur op te knap. Dit gaan miljoene rande kos en ten minste ses weke neem.
VEREENIGING. – Die burgemeester van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, eerw. Gift Moerane, het inwoners van Peacehaven Donderdagmiddag gerus gestel dat dit nie ‘n moedswillige daad deur die munisipaliteit was wat hulle in duisternis gedompel het nie.
“Dit is ‘n probleem wat deur verouderde infrastruktuur veroorsaak is,” het Moerane gesê.

Moerane het Donderdagmiddag omstreeks 16:00 inwoners van die buurt by Tjomma’s Place, ‘n gewilde plaaslike kuierplek op die hoek van Generaal Hertzogweg en Loeriestraat, toegespreek.
Hy het ook die substasie in Charles Swartlaan, wat op 29 Maart aan die brand geslaan het nadat ‘n transformator ontplof het, besoek en met tegnici en amptenare op die toneel gepraat oor die vordering wat tot dusvêr gemaak is.

Volgens Moerane is die substasie wat aan die brand geslaan het in 1937 gebou en sal dit herbou moet word om aan moderne standaarde te voldoen.
Volgens Moerane het hy vroeër met betogers gepraat en hul gevra om hul betogings te staak.

‘n Sloot moet volgens Moerane gegrawe word en ‘n kabel van 2.5km sal gelê moet word.
Moerane het ook gewaarsku dat daar toegeslaan gaan word op inwoners wat onwettige konneksies gemaak het.
Die polisie en die munisipaliteit se bywet-eenheid sal help.
Kyk kort onderhoud met burgemeester hier:
*VOLLENGTE VIDEO MET HOOGTEPUNTE VOLG LATER
