Krag kan moontlik Dinsdag na SW-gebiede herstel word
Die omvang van die skade moet nog bepaal word.
VANDERBIJLPARK – Daar is moontlik lig aan die einde van die tonnel vir inwoners van die SW-gebiede wat steeds sonder elektrisiteit sit.
Volgens ’n bron is toetse op die 88 kV-kragkabel tussen die Vesco- en Unibijl-substasies uitgevoer, maar die kabel het die toetse gedruip.
Die fout of foute moet nou opgespoor word. Die herstelwerk wat die las van kabelverbindings insluit kan minstens twee dae duur, afhangend van hoeveel foute gevind word. CBI sal ook versoek word om met die herstelwerk te help.
Intussen word daar aan ’n alternatiewe oplossing gewerk om die kragtoevoer na die SW-gebiede te herstel.
Volgens die bron is ’n diensversoek reeds by Eskom ingedien om ’n foutiewe stroombreker op die Nicole-kraglyn na die Frikkie Meyer-substasie te herstel.
Eskom sal na verwagting Dinsdag 10 November die herstelwerk aanpak.
Indien alles volgens plan verloop, kan krag teen Dinsdagaand via hierdie alternatiewe toevoer na die SW-gebiede herstel word.
Die bron beklemtoon egter dat die herstel van kragtoevoer afhang van die suksesvolle herstelwerk deur Eskom.
’n Definitiewe tyd vir die herstel van kragtoevoer is nog nie bevestig nie.