Rioolwater stroom in diep sloot voor CW6-wonings af
VANDERBIJLPARK. - Wat met 'n goeie bedoeling van ELM begin het om groot rioolpype met nuwes te vervang, het nou in 'n hoofpyn verander nadat die werk na meer as 'n maand steeds nie voltooi is nie en rioolwater nou in die oop sloot afspoel.

Rdl. Philip Nothnagel van Wyk 5 het toevallig met hierdie probleem in die CW6-area te doen gekry, nadat van die inwoners hul lot oor die stand van sake aan hom bekla het.
“Daar kan duidelik gesien word hoe die rioolwater in die diep, oop sloot afstroom. Ek het ‘n video en die nodige inligting hieroor gisteraand aan die MM en Administrateur gestuur, waarna daar gisteraand ‘n nuwe kontrakteur aangestel is om die probleem te hanteer,” sê Rdl. Nothnagel.
Daar is op 25 Februarie met die projek begin. Die sloot loop reg voor inwoners van Daudetstraat se huise verby. Die werk het nadat die pype uitgehaal is, skielik tot stilstand gekom.
Die groot pype wat uitgehaal is, lê nou reeds weke lank op die sypaadjie. Die wyse waarop die werk net so laat staan is, hou beslis gevaar vir inwoners in. Boonop het dit die ingange na verskeie wonings versper.
“Ek is bly dat daar nou werk gemaak word van die situasie. Dit is net jammer dat mens altyd soveel druk moet toepas voordat hierdie soort probleme hanteer word,” het Rdl. Nothnagel afgesluit.



