MIDVAAL HOOFSWEEP RAPPORT – No. 16
Afgelope 2 jaar amper 20 spesiale vergaderings belê om o.a. klagtes, dissiplinêre aangeleenthede en noodgevalle te behartig

MIDVAAL HOOFSWEEP RAPPORT – No. 16 30-03-2021
Deur Raadsheer Phil C Pretorius Hoofsweep Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Verlede week het ek genoem dat Midvaal Raad ongeveer tienmaal per jaar in geskeduleerde vergaderings vergader om die sake van die munisipaliteit te oorweeg. Daar is egter ook van tyd tot tyd spesiale raadsvergaderings wat geroep word en kan op kort kennisgewing plaasvind om dringende sake te bespreek. So is daar in die laaste twee jaar amper 20 spesiale vergaderings belê om o.a. klagtes, dissiplinêre aangeleenthede en noodgevalle te behartig.
Op 25 Februarie 2021 het die raad ʼn aantal verslae genotuleer en die positiewe terugvoer vanaf die Tesourie op ʼn leningsaansoek van Midvaal is voorgehou. Dit is in verlede week se berig bespreek. By dieselfde vergadering is item C2478/02/2021- RECLAMATION PROPOSALS FOR WATER ter tafel gelê. Hierdie item stel voor dat gryswater gesuiwer word en hergebruik word in ons munisipaliteit. Meyerton Waterwerke is geïdentifiseer as ‘n loodsprojek vanwaar die herwinning gaan plaasvind. Die werke is reeds onlangs opgegradeer vanaf ʼn 10 Ml/d tot 25 Ml/d werke. Alhoewel Midvaal geen water tekorte het nie is dit noodsaaklik om ten alle kostes water te bespaar waar ons kan en dit ekonomies bekostigbaar vir ons inwoners te maak.
Om egter water reeds te suiwer vir aanvaarde uitlaat in riviere is ʼn verlies. Hierdie water kan hergebruik word en aangesien dit reeds in Midvaal is en gesuiwer kan word maak dit sin om die opsie te ontgin. Die projek sal geen finansiële implikasie vir Midvaal inhou nie aangesien die verkose verskaffer die water sal suiwer en aan die munisipaliteit terugverkoop teen ʼn goedkoper prys. Voordele vir inwoners is moontlike verlaagde aankooppryse en water besparing. Voorafvervaardigde waterwerke maak die bou en instandhouding van die herwinningswerke ook goedkoper en veiliger. Streng beheer word dan toegepas op die kwaliteit van die water en gereelde toetse sal plaasvind wat sal lei tot ʼn BLOUDRUPPEL-klassifikasie alvorens water aan inwoners verskaf kan word.
DIE MIDVAAL VERSKIL Areas soos Risiville en Duncanville word egter van water voorsien deur Emfuleni onder ʼn dienste-ooreenkoms. Dit is agv die feit dat hulle voorheen deel van Vereeniging was en al die dienste van daar af aangelê is. Inwoners betaal Midvaal en Midvaal betaal dan Emfuleni vir hierdie dienste. Onlangs het hierdie areas watervermindering (throtteling) gekry agv Emfuleni se wanbetaling aan Rand Water. Die saak is egter gou reggestel deur Burgemeester Bongani Baloyi en MMC Peter Teixeira.
Trotse Midvaal Groete
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225 MyMidvaal App
*************************************************************************************************
